Category Archives: Victoriastraat

Onderwerpe wat spruit uit wandelinge langs die Laan.

Op soek na bevrore liefde

Standaard

Ek soek ’n yskas.

Nie die mees opwindende onderwerp nie, maar nietemin.

Vir iemand in sy laat-dertigs, in ’n huis met ’n klein kombuis, sonder afhanklikes, vind ek dié besluit besonder moeilik om te maak. In ’n ander opset, met melk wat suur trek, kan ek my indink dat huishoudings meestal nie wroeg oor sulke onbenullighede nie.

Maar ek kom maklik genoeg klaar sonder melk – en daar is niemand wat my aanja nie. G’n kind wat kraai vir koue koeldrank nie.

Boonop is my yskas ook nie behoorlik stukkend nie; bloot temperamenteel. Die vrieskas vries nog – dit is net die koelkas wat algaande warmer raak … en wie het nou werklik koue kaas nodig as daar roomys is?

Maar nou ja, van vries en ontdooi alleen kan ’n mens nie lewe nie.

Só begin my harwar-verwarrende soektog.

Wil ek hê die ding moet minder raas? Of krag bespaar? Die vrieskas bó of onder? Groot of klein? Wit of grys … of poeierblou?

Terwyl ek probeer om een yskas se spesifikasies op te weeg teenoor ’n ander, begin ek iewers tussen ’n Bosch en ’n Hisense besef dat my vermoeienis eintlik niks met yskaste te make het nie.

Wat ek eintlik besig is om te probeer balanseer, is die wisselende ewewig van my voortdurend-veranderende waardes – want wat vir my belangrik was en is of dalk sal wees, is dikwels teenstrydig. Hoe weerspieël die idee van ’n yskas die ék wat ek is, teenoor die ék wat ek was of wou wees (sien: What Your Home Says About You…)?

Ek is mos volwasse nou en daarom sal ’n kroeg-koelkassie met ’n klein hokkie waarin die ys vasvries, nie meer deug nie; eerder grootmens-dubbeldeure wat wyd oopswaai en laaie vol bevrore groente kan vat … waaruit ek weer as kind, as deel van ’n groter gesin, diep in kan delf op soek na ’n koejawelsap-suigstokkie … of waarna hunker ek?

Teenoor daardie ideaal, staan my lewe tans strak in kontras. As ek net één mond het om te voed, hoe vol kan ek tog ’n yskas pak, net met bier en koue vleise? Weeg my wil om te bespaar, minimalisties te lewe, beskeie en bedag te wees op die impak van ’n individu nie swaarder as als anders nie? Dog, die meer kompakte modelle is ontwerp vir ’n ander mark; vir diegene wat hulle woonstel-besittings self in een sleepwa kan pak…

Dán weer: Blake(re)nde sukses beteken jy kan geld gooi na dít wat mooi is, iets koop bloot vir die blink, die feit dat dit opgesmuk is soos toentertyd óf kan klets met jou foon. Basta of dit leegstaan met net enkele botteltjies konfyt!

Nie die mees opwindende onderwerp nie, ek weet, maar nietemin. Beter as om te tob oor oonde, reken ek?

Of altans, dalk staar ek my blind aan ’n klein molshoop – wat yskasmagnete bloot(s) berg.

Konvokasie se taal(e)mosie as ’n pleidooi vir Die Koerant: ’n metafoor

Standaard

Ek hou van koerante. Ek het daarmee grootgeword. Dit bevat iets van alles, met berigte van oraloor, ook in my streek. Ek hou van die tekstuur in my hand; die ritseling in my greep.

Maar hoe gemaak in ’n veranderende wêreld? Waar koerante aangevul en mettertyd vervang word met/deur ander media? Waar jy die skakel op jou ipad volg na ’n youtube clip rakende die nuus? Waar die uitgediende koerant (o)opgevou word tot flitsende lig? In die niet in verdwyn?

Sê ek nee? Basta met vernuwing…?

Eis ek, op ’n emosionele whim, dat alles in my bedrukte media behoue bly? Dat kennis in een rigting in een taal aan my kinders se kinders oorgedra word? Soos in die ou dae? In swart-en-wit?

Geen keer is daar tog aan digitale ontwikkeling nie … maar ek kan my daarteen verset! Ek kan mense wat so oud is soos ek laat saam rally en sê Hou julle hande van ons krante af! Ontwikkel die gedruktes en verligtes apart! Ja, hulle kan mos maar onse nuus copy en paste soos hulle wil; maar hou ons s’n op papier. Dié wat ipads het, kan mos enige nuus gaan lees! Behou ons Koerant soos Hy is. Dit is óns pulp dié!

[Ons kan standpunt inneem en ’n graaf plant voor die gety.]

(Ons kan ’n koerantafleweraarseun inspan om die optog te lei.)

Basta met wat die joernaliste wil doen! Ga, die redakteur behoort tog aan ons – dit is óns koerant; ons vólksbesit! Ons rég! Mijn récht. Ja, iedereen heeft recht op een naaimasjien.

>>

Lees verder …

Om groot groepe in rye te laat stap – ’n pragmatiese probleem of ’n filosofiese vraagstuk?

Standaard

By die universiteit is dit weer tyd vir die nuwe studenteleiers om te begin dink en beplan aan volgende jaar se verwelkomingstydperk. Hoe/wat maak hulle met die nuweling-eerstejaars?

Vantevore, destyds, lank gelede – soos op heelwat residensiële kampusse in Suid-Afrika, is studente op ‘n kortaf, militaristiese manier verwelkom in ‘n fyn-uitgewerkte week van hel waartydens die eerstejaars voorberei is op die terugkeer van die seniors, spangees gebou het deur saam te suffer en tussendeur geleer het hoe om vinnig te stap, opdragte uit te voer en laaste ten einde niet klasse by te woon.

Dit het sy tyd en plek gehad in ‘n era waar studente voorberei is om burgers van ‘n samelewing te wees waar gesag vertrou is en groepseenheid belangriker geag is as buitestaanders wat anders dink.

Vandag wil ons egter ander tipe studente aflewer vir ‘n millennium met komplekse uitdagings we cannot solve at the same level of thinking at which we created them (Einstein). Ons wil nie hê hulle moet klakkeloos opdragte uitvoer nie, ons wil hê hulle moet bevraagtekend wees, krities dink en selfstandig kan optree. Vantevore moes hulle inval by ‘n gesagshiërargie, maar dit strook nie met die universiteitsidee dat jou eie kreatiewe, innoverende gedagtes kan meeding (mits dit wetenskaplik-verantwoordbaar beredeneer is) met jou dosent s’n nie. Ons wil nie bevele-volgende burgers aflewer nie, maar global citizens wat omgee vir hul medemense, wat weetgierige kenners is in hulle vakgebied.

Nou hoe gemaak met ou praktyke?

Oor die jare heen het daar verskeie maniere van doen, metafore en tradisies ontstaan in koshuise en privaatwyke: sommige daarvan briljant; sommige nie. Wat ek sou aanbeveel, is dat jy as studenteleier, wanneer jy met julle verwelkomingsprogram se beplanning begin, jy neerskryf wat julle uitkomste is, en dan probeer om aktiwiteite te beplan wat vir die eerstejaars die nodige belewenisse sal laat ervaar om die uitkomste te bereik. En, voordat jy enige tradisie voortsit, dit eers dekonstrueer: die ontstaan van die tradisie verstaan, die maniere waarop dit deur verskillende mense beleef word, ondersoek. Bevorder dit gehoorsaamheid of kreatiwiteit? Eendersheid of diversiteit? Dan, as jy dit deurdink het, kan jy sorg dat wanneer jy die tradisie by julle program inskryf, julle dit in die komende jaar kan rekonstrueer op so ‘n wyse dat die sterkpunte van die tradisie uitgebou word. (Trouens, ek dink nie ons laat ‘n tradisie se reg geskied as ons dit net ondeurdag herhaal nie … dit is juis deur konstant te hernuwe dat tradisies steeds relevant bly.)

En wat van hoe ons dinge doen?

Ek sou aanraai dat ons nie net die eksplisiete tradisies/vaste aktiwiteite ontleed nie, maar ook die maniere/wyses waarmee julle met die nuwelinge omgaan, de- en rekonstrueer. Hoe julle as studenteleiers lyk, hoe julle die nuwelinge aanspreek, watter verwagtinge julle aan hulle stel. In ‘n vorige inskrywing het ek verduidelik dat eerstejaars maklik hulleself in ‘n minderwaardige posisie stel en die studenteleiers tot magsposisies verhef, selfs al beoog die leiers dit nie so nie … daarom dat studenteleiers bedag moet wees daarop om vooraf te besluit hoe hulle met die eerstejaars wil omgaan om die gevaar teen te werk.

Van ‘n buitestaandersperspektief is dit soms makliker om te sien wanneer programme verkeerd loop. Daarom is dit ook handig om oop en eerlik te wees oor wat jy beplan en raad en wysheid van buite die huiskomitee ook inwin.

Om groot groepe in rye te laat stap

Een voorbeeld van ‘n manier van doen wat jaar op jaar voortgesit word en selde krities ondersoek word, is die wyse waarop ons nuweling-eerstejaars as groot groepe hanteer, toespreek, laat groet en in groepe stap/beweeg van een plek na die volgende. Ons is geneigd om hulle te vra om in rye aan te tree, om rymgroete vir ander groepe op te sê en begeleid te stap, ook in rye van een gejaagde plek na die volgende. En soos wat gebeur as jy in rye stap, konsertina die massas mense tot so ‘n mate dat die agterstes elke nou en dan moet draf om by te hou.

Waar kom hierdie praktyk vandaan? Is dit ‘n praktiese oplossing vir ‘n wesenlike probleem? Of het dit ingepas by ‘n vroeëre  filosofie? Hoe beleef mense dit? Dra dit by tot ons uitkomste of trek dit ons van die wal af in die sloot? Kan ‘n mens dit anders doen?

Om te verander ter wille van verandering, is nie die punt nie

Dikwels wanneer ek hierdie tipe punte ophaal by gesprekke, voel studenteleiers asof hulle hul praktyke moet verdedig – asof my kritiek impliseer hulle is verkeerd. Dit is nie my bedoeling nie; ek wil net kritiese en kreatiewe denke bevorder: sodat ons kan dekonstrueer en rekonstrueer en leer. Dit is vir my waaroor intellektuele en verbeeldingryke leierskap gaan: om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar konstant vir jouself af te vra of ‘n vernuwing ‘n verbetering sal teweegbring of nie. Soms is die antwoord “nee” – maar selfs dan was die gesprek nie oorbodig nie, want jy kan maklik deur jou analise wel gevare identifiseer wat jy dan kan aanspreek. Gestel jy voel in jou program moet jy die mense gereeld nog in groepe aanspreek, en ter wille van beleefdheid tydens skakelings wil jy jou eerstejaarsgroep aanmoedig om formeel te groet, en ter wille van stiptelikheid wil jy nuweling-eerstejaars leer hoe om vinnig en ordelik te stap – dan kan jy steeds dit doen, maar met die wete watter waardes jy daardeur inboet. Dit is vir my waaroor waardegedrewe bestuur gaan: jy speel die heeltyd verskillende waardes teenoor mekaar af.

Skoolhemp insteek teenoor hare wat oor die ore krul

By baie tradisionele skole word die waardes van netheid, orde en dissipline voorop gestel. As jy ‘n uniform dra, moet jy jou hemp insteek; seuns se hare mag nie oor hulle ore krul nie. Die skool se onderwysers straf gedrag wat daardie waardes verontagsaam … maar hulle doen dit ten koste van ander waardes wat vir tieners eintlik in wese belangrik is: vryheid, onafhanklikheid, om cool te wees. Tereg is baie onderwysers bevrees dat, as jy leerders loslaat om hulle eie ding te doen, daar chaos sal wees. En hulle praat dikwels uit ervaring, omdat civvies-dae maklik wanorde meebring. Hoe dit ook al sy, elke individuele leerder toets hierdeur ook sy/haar eie waardes en watter identiteite waartoe hulle hul verbind belangriker is. Nietemin om terug te kom by die aantree en loop in rye …

Kan ‘n mens groot groepe van een plek na ‘n volgende beweeg sonder om hulle in rye te laat stap?

Ek dink daar is ander maniere van met mense werk wat beter kan wees as die in-rye-aantree storie. Uit sosiale leerteorieë weet ons dat kleiner groepe waarin mense met mekaar kan gesels, beter daarin slaag om leer te fasiliteer. Die eerstejaarstudente kan dus dalk in kleiner groepe gebondel word om saam te stap van een plek na die volgende.

Gesprekke: Eerder as om een drilsersant aan te stel wat bevele met eerstejaars luidkeels deel, hoekom nie verskillende onderwerpe (soos: hoe om te budget, waar om wasgoed te was, hoe om verantwoordelik te drink en kuier, hoe om te weet waar jou klasse is, hoe die akademiese jaar se ritmes werk, ens.) tussen die studenteleiers – en ander seniors – verdeel nie, en in kleiner groepe met hulle gesels oor die onderwerpe wat julle voel belangrik is nie?

Skakelings: Hoekom nie in kleiner groepe skakel met ander koshuise se inwoners en deur die dorpsmuseumhuisies wandel of leersame toere deurmaak en afwissel nie?

Groete: In plaas daarvan om as groot groep ‘n rympie aan te leer en op te sê, hoekom groet studente nie net mekaar op hulle eie maniere nie? Of gee ‘n dankie-sê kaartjie met/sonder jou kontakdetails, afhangende van of jy weer met die persoon later wil praat.

Sosiale spanbou-aktiwiteite: Werk dalk aktiwiteite uit wat dit vir die eerstejaars wat uit verskillende omgewings kom, maklik maak om met mekaar te praat en hallo en koebaai te sê.

Tydsindeling en stap: Vantevore was dit deel van die studenteleiers se plan om eerstejaars vinnig van die een aktiwiteit na die ander aan te hits; hulle op hulle tone hou, hulle vrye tyd inperk en hulle in die duister hou oor die komende aktiwiteite wat vir hulle gereël is. Is dit nog ter sake? Hoekom nie ‘n padkaart en ‘n verwelkomingsprogram uitdeel, met genoeg tye ingereken sodat studente rustiger in groepies kan stap nie?

Wat is die verskil nou eintlik?

Ek dink as jy eerstejaarstudente in rye laat aantree en stap, leer jy hulle aan hoe om afhanklik van ander te wees. Die nuweling-studente oriënteer hulleself nie t.o.v. waar hulle nou op kampus is en waarheen hulle volgende op pad is nie; hulle volg maar net die bevele uit van dié wat hulle in die duister hou oor wat volgende op die program is.

Studente is heel bereid om, as hulle besef hulle is laat, vinniger te draf. As jy hulle in groepe laat stap en jy verantwoordelik is vir hulle betyds-wees, dan gaan jy later begin om op hulle te skree.

Watter manier van doen pas beter by dít wat jy wil bereik?

>>

Praat gerus saam, veral as jy ‘n oudstudent of huidige ene is.

My kantoor was gisteraand ’n baken van lig in die maanlose nag …vir motte

Standaard

My kantoor was gisteraand ‘n ligtoring in die diepdonker nag vir die motte wat kerplaks-kaplaks teen die ruite vasgevlieg het, koppig, keer-op-keer opwaarts tot waar hulle uiteindelig deur dun skrefies lug kon inwring na die beloofde lamp.

My kantoor met blindings wat blindelings ratel in die ligte bries het oornag in ‘n krematorium ontaand.

>>

Ten spyte daarvan, aanvanklik onbewus, sit ek oorgebuk intens my kop en kantel vrylik terwyl ek stiptelik, herhaaldelik, onverbiddelik deur artikels en hoofstukke flap, ewig soekend na ‘n verligte kruisverwysing wat by my woorde sal pas.

‘n Artikel ingebed in ander. Kennis is lig.

>>

Waarlik, die motte se simposium lewer ‘n dawerende applous van vlerke wat klap, vol weerga vir die brommende buisligte se heldere insig.

>>

(Later kom die onthou van hoe delikaat ‘n mot se vlerk werklik is.)

In die dae toe universiteite nog klein was

Standaard

In die dae toe universiteite nog klein was, was onderrigleer dalk gebaseer op ‘n leersamer model as tans.

Die getalle was beter: slegs ‘n handvol studente per dosent, wat beteken dat daar in sekere dissiplines ‘n een tot een mentorskap van student tot akademikus kon wees; ‘n kollegiale atmosfeer waar studente nie en masse by die lesingsale uitgepeul het of op die trappe moes plek in neem nie, maar kritiese klasgesprekke saans by die dosent se huis kon verder voer.

Miskien was kennis toe heiliger. Studente het dosente gerespekteer vir die kosbare kennisbron wat hulle is; dosente het die geleentheid waardeer om idealistiese jongmense te kon begelei in nuuskierige, kritiese waarnemings en kreatiewe denke. Voor die taaldosent het waarlik (vanaf hul eerstejaar!) die toekomstige digters, landsleiers en denkers gesit.

In die dae voor assessering te ernstig geneem is:  ja, jy kon ‘n paar feite onthou, maar jou punt het eintlik afgehang van jou vermoë om te kon debatteer en vrae vra; deelneem; belangstel; uitdaag; omgee.

>>

Duidelik het ons iets daarvan verloor.

Ons het beslis ook heelwat bygekry – en die demokratisering van die hoër onderwys, wat universiteitskennis een van die hoofstroom-verhandelbare kommoditeite gemaak het, is op verskeie vlakke aanprysbaar.

Maar êrens, voel ek, het ons die essensie van universiteit-toe gaan; om te wil leer dink, verloor.

>>

Slegs enkele ou universiteite, waar die mure oortrek is in mos en groen blare het die luuksheid van intergeneratiewe gesprekke behou. Waar die dosente weet hulle het die toppresteerders oorkant hulle; waar daar met gedagtes gespeel word en idees vrylik seks kan hê; waar klasgrootte en voorgraadse studentegetalle klein gehou word. Waar boeke in boekrakke die koshuisgange op pad common rooms toe begelei: eeue se akademieskap.

Soveel ánder gedagtes rondom universiteit het wel vir die vale ontwikkel. Ons het assesseringsmatrikse, multiple choice vraestelle; ons het koshuise wat verwoed blinde trots en lojaliteit by hulle inwoners indwing (moet tog net nie krities wees nie!), ons het met mékaar seks, nie met skeppende gedagtes nie. Die bottels klingel in plastieksakke op ‘n Woensdagmiddag ná klas; die dosente neem verlief met die draaloë die volgende oggend.

>>

En studente leer eendimensioneel met feite omgaan: in hulle beroepsgerigte dissiplines swot hulle oninteressante, irrelevante feite op – die vetgedrukte woorde – vir ‘n toetspunt. Hulle kuier met klasmaats en kamermaats, almal met dieselfde dimensionele denke, en praat des te nimmer nooit oor akademie nie – nee, hulle moet ontsnap van ‘n ondraaglik-sinlose bestaan van toetse en take oor dinge waaroor hulle nie nuuskierig is nie – en waar nuuskierigheid ook nie verlang word nie.

Die dosente is perdalks net so afgestomp soos die sisteem.

Die stadige teug aan ‘n glas rooiwyn met glinsterende oë omdat jy die denke in ‘n kind se kop laat loskom, gebeur nie. Jy staan in ‘n klas in ‘n wolk van bordkryt om in die aand ‘n bottel rooiwyn alleen op te drink met ‘n rooi pen in die hand besig om 630 vraestelle te bepunt.

>>

Ons almal ontpit olywe meganisties.

Om gehalte te verseker, tel ons die aantal pitte (of die aantal olywe); ons kyk of die botteltjies dig verseël, die plakkertjies haaks geplak is, en dan gom ons ‘n vervaldatum einde ten laaste vas.

Die reuk van stinkende olywe kleef aan ons hande.

Maar ons ontwikkel nooit ‘n smaak – die liefde – daarvoor nie.

Eerder ‘n gebottelde haat, ‘n walging, ‘n klein klotsel kots in die keel, uitgestal op ‘n rak.

Die waarde van intergeneratiewe gesprekke

Standaard

Ek het ‘n vriendekring, my ouderdom, vir wie ek betreklik gereeld sien.  Ons gooi frizbee, drink whisky, eet pizza, woon mekaar se troues by, en gaan kamp soms saam vir Nuwejaar. ‘n Vriendin kom gereeld by my wasgoed was.

Maar merendeels bestaan my lewe tans uit gereelde interaksie met mense aansienlik ouer of jonger as ek. Ek timmer aan ‘n blok gips in ‘n beeldhouklas, leer skryf in ‘n memoires-kursus; in albei gevalle is ek die jongeling. Amper weekliks wandel ek langs die strand met ‘n vriendin wat amper-amper 60 is; sit op ‘n stoep en gesels oor die ruisende see.

Dan het ek ook jongeres wat by my aanklop – en ook dit geniet ek terdeë. As inwonende hoof vergader ek met studenteleiers; as voormalige onderwyser kom loer eerstejaars (graad 8’s van ouds) soms by my in. Die teologie- en teoretiese fisika-studente gesels oor ateïsme en god terwyl my vriendin haar wasgoed was. As ek huis toe gaan, speel ek sokker met my ouer broer se kleuter-kinders. Elke dan en wan help ek ‘n tiener met ‘n gedig.

>>

Ek dink dit is gesond. Dit is natuurlik dat verskillende generasies in oop gesprekke met mekaar gesels; mekaar se gedagtes bedink. En ek dink ons het heelwat van mekaar te leer. Dit is vir my ongelooflik verrykend om my broer se kinders te sien groei van slap baba’s tot jong sokkerspelers. Dit is sinvol om te sit en sien hoe dit skemer word op ‘n balkon met wyn en kaas. Ek adem van die studente se idealisme in as hulle passievol oor hulle menswees gesels.

>>

Dit laat my wonder oor koshuise: hoe gesond is dit om ‘n klomp jaargenote saam te kluister, in ‘n ruimte só gerieflik dat hulle nouliks uitkom? Mis ons nie iets van die dinamika van die lewe nie? Laat ons hulle nie te veel oor aan hulle eie genade nie?

Universiteitskoshuise is een ding: daar het jy darem kursusse wat oor jare heen span: M- en PhD-studente wat ten tye oor die kampus heen wandel. Maar hoe gemaak in kolleges – waar senioriteit van een jaar na die volgende in ‘n tweejaar-kwalifikasie op nuwelinge afgedwing word; waar jou skopus van fokus só vernou dat jy eintlik ‘n oombliksmens word in ‘n heeltyd-speeltyd kamma-wêreld, onbewus van die werklikhede wat om jou aangaan?

Daar is iets ongesonds aan nét jongmense om mekaar. As jy geen perspektief om jou toelaat anders as dié wat jou siening versterk nie. Of altans, dit vermoed ek.

Die lewe is, altemit, ‘n gesprek.

“First years,” gee hy die opdrag, “you may now skakel with the ladies.”

Standaard

Wanneer voel jy tuis by ‘n nuwe plek?

>>

Koshuise het oor die jare ‘n interessante strategie ontwikkel:  Hulle laat jou aanvanklik besonder ontuis voel, en skud net heeltyd hulle koppe oor hoe useless jy is en watse swak indruk jy op die seniors gaan maak, en dan geleidelik, omdat jy eenvormig groet en hier en daar geesdriftig skree en in rye stap, (maar hoofsaaklik omdat die verwelkomingsweek se tyd uitloop) begin hulle jou komplimenteer, totdat jy uiteindelik op ‘n vurige aand ‘n handdruk kry soos min, en met ‘n dawerende Hallo, nóú is jy deel van die HUIS! begroet word.

>>

Die vrees is dat, indien nuwelinge bloot van meet af tuis voel, hulle rammetjie-uitnek sal raak (soos net matrikulante kan wees), geen seniors sal groet nie en bloot hulle koshuiskamers as woonstelagtige akkommodasie sal gebruik.

>>

Deur van een uiterste (Kyk af!  Jy is nie waardig om hier te wees nie!) oor te beweeg na ‘n ander uiterste (Welkom! Jy is nou ‘n ware koshuisman! Ons is trots op jou!), dramatiseer huiskomitees dié magiese oomblik van aanvaarding tot iets groots – ‘n daadwerklike achievement.  Uit ‘n vanselfsprekendheid skep hulle iets groots.

>>

Tog, as ‘n mens bietjie buite dié proses staan, kom hierdie oordrewe spel besonder klugtig voor.

Gestel nou maar jy is ‘n eerstejaar-vrouestudent in ‘n vriendelike woonstelwyk, en jy het sopas klaar kultuuraand gehou met ‘n manskoshuis – diep onder die indruk van hoe talentvol jou mede-eerstejaars is: Hoe belaglik is dit nie as die bebaarde seremoniemeester moet geepad vir ‘n ongepoetste senior met ‘n sonbril nie?  ‘n Sonbril wat blink onder die buisligte.

“First years,” gee hy die opdrag, “you may now skakel with the ladies.” 

>>

Verslag van ’n vlugtige besoek aan Engeland

Standaard

Ek was einde laasjaar vlugtig in Engeland om ‘n konferensie oor navorsing in die hoër-onderwys by te woon.  Die tema van die konferensie was: Where is the Wisdom we have lost in knowledge – Exploring Meaning, Identities and Transformation in Higher Education.

Self moes ek ook my pond vleis verdien en het ek meegewerk aan ‘n referaat How the renewal of its academic offering is transforming the identity of an African university.  Vir daardie doeleinde het ek vroeër laasjaar deur die afgelope dekade se nuwe akademiese programme van een universiteit gewerk, dit geanaliseer, en onderhoude met programkoördineerders gevoer.

Ons navorsing is goed ontvang; sestien geïnteresseerdes het na ons vyf skyfies en twintig minute voorlegging geluister, en toe vir tien minute vrae gevra.  Sestien mense klink dalk na min, maar daar was twaalf parallelle sessies gelyktydig aan die gang (sodat diegene wat wou, hulle navorsingspunte kon verdien).

Soos vantevore genoem, het die president van die konferensie, Professor Sir David Watson, na ons spesifieke praatjie verwys in sy volsaal-toespraak aan die einde van die eerste dag.

Die konferensie het oor drie dae gestrek.  Daar was vier gesamentlike sessies (elk gevolg deur ’n gefasiliteerde kleingroepbespreking), een paneelbespreking, en sewentien parallelle sessies (waartydens konferensiegangers telkens een sessie uit ’n moontlike twaalf kon kies, soms saamgegroepeer in ’n symposium-formaat).  Dit het gesorg vir ’n groot verskeidenheid perspektiewe op die hooftema en hoe dit inspeel op Hoër Onderwys t.o.v. beleid, onderrig en leer, en bestuur.

Die voorleggings van die gesamentlike sessies was getiteld:

  1. Why managers should not replace Socrates in the boardroom, Dr Amanda Goodall
  2. The Future of Higher Education in the Age of Austerity, Professor Sir David Watson
  3. The Urgent Need for an Academic Revolution: From Knowledge to Wisdom, Nicholas Maxwell
  4. Knowledgeablility in landscapes of practice: from curriculum to identity, Professor Etienne Wenger

>>

Die paneelbespreking op die laaste dag het die verskillende perspektiewe met mekaar probeer versoen, ingelei deur ’n opsommende verslag van die konferensie-rapporteur: Where IS the Wisdom? Shared Perspectives with contributions from all keynote speakers and Conference Rapporteur.

Die konferensie het in ’n turbulente Britse beleidstyd plaasgevind, maar ten spyte daarvan is die formele program nie deur besprekings oor die implikasies van die Browne-verslag oorheers nie; die etenstafelgesprekke het wel daaroor gegons.

>>

Die feit is wêreldwyd is Hoër Onderwys in die knyp.  Die aanvraag is groot; die koste is duur – en die gaping tussen ryk en arm gaan hand-aan-hand met die nypende verskil in gemeenskappe se vlakke van geletterheid.

Ek was bevoorreg om die konferensie te kon bywoon en Londen, Edinburgh (Skotland) en Newport (Wallis) op universiteitskoste te kon sien.

Iets in my knaag egter sedertdien. ‘n Sinisme. ‘n Spyt. ‘n Ongeloof in Die Akademie.

Miskien voel ek net skuldig dat ek aardverwarming aangewakker het met my reise oor die waters.

>>

Gister moes ek vroegoggend opvlieg Johannesburg toe vir ‘n nasionale vergadering oor programraamwerk-veranderinge vir Hoër-Onderwys instellings.  Laatmiddag was ek op pad terug.  Vroegaand weer in Victoriastraat.  Laataand was ek moeg.

>>

Vanwaar die gejaag na wind?