Tag Archives: opsomming

NOTA aan BEd- en NOS-onderwysstudente

Standaard

Die vakdidaktiek Afrikaans onderwysstudente wat Humor en konstruktivisme in die onderrig van kreatiewe skryf by my neem, moet asseblief kennis neem van die volgende bloginskrywings waarop hulle kommentaar moet lewer teen hierdie Woensdag 15 Oktober:

Vir die opsommings: https://mnrmuller.wordpress.com/2008/08/21/parodie-in-drie-dele-opsomming/

Vir die voltooide parodieë: https://mnrmuller.wordpress.com/2008/08/27/parodie-in-drie-dele-vlymskerp-spot-2/

Indien jy nie jou parodie indien nie, verbeur jy jou klaspunt vir dié module-deel.

Lees gerus ook al die ander inskrywings onder die Klasgee-kategorie om vir die eksamenvraestel voor te berei.

Konstruktivisme #4 – Outentieke tekste

Standaard

Volgens konstruktivistiese leerteorieë kan onderwysers nie net kennis-konsepte klinkklaar met eenrigting-gesprekke oordra nie.  Leerders skep kennis op grond van hulle huidige verstaan van die wêreld.  Om iets nuuts te leer, moet leerders torring aan hul bestaande konstrukte.

Ideas and thoughts cannot be communicated in the sense that meaning is packaged into words and “sent” to another who unpacks the meaning from the sentences. That is, as much as we would like to, we cannot put ideas in students’ heads, they will and must construct their own meanings. Our attempts at communication do not result in conveying meaning but rather our expression evoke meaning in another, different meanings for each person. – Grayson Wheatley (1991)

Onderrig in die skryf van opsommings  (‘n voorbeeld)

Dikwels, veral as onderwysers taal onderrig, gryp ons handboek-konsepte uit die lug en aanvaar dat leerders dit sonder moeite sal kan integreer en netso reproduseer (want die werk word mos “logies” uiteengesit).  Soos met opsommings: ons onderrig steeds précis aan die hand van taalreëls en -algoritmes (reeks opeenvolgende stappe).  Ons ignoreer die feit dat elke leerder ‘n vooraf-verstaan van “opsommings” het en van wat “opsommings” is/moet wees.  Ons ignoreer die feit dat hulle die behoefte het om hul verstaan van opsommings met mekaar te deel en die konsep van ‘n “goeie” opsomming met mekaar te onderhandel.

Ek het juis onlangs ‘n klompie vakdidaktiek Afrikaans-onderwysstudente gevra om ‘n sprokie van hul keuse op te som (dit dien as inleiding tot ‘n kreatiewe skryf-oefening) – dit was besonder interessant om te sien hoe min van die taalbeginsels (wat hulle op skool “geleer” het) hulle vanself navolg.

Het “leer” ooit by hulle plaasgevind toe hulle as matriekleerders précis-reëls vir die eindeksamen deurgelees het?

‘n Positivistiese benadering tot onderrigleer loop stapsgewys so:

  1. Stel die leerders bekend aan ‘n nuwe taalkonsep: die opsomming (précis)
  2. Wys vir hulle ‘n voorbeeld van ‘n opsomming en hoe om ‘n teks (spesifiek geskryf vir die doel van taalonderrig) stelselmatig te stroop tot die kerninligting
  3. Gee ‘n lys reëls wat gememoriseer en toegepas moet word
  4. Toets hul précis-kennis vir 10 punte in die eksamen (hoe nougeset hulle die taalreëls nakom)

Daarteenoor het ek die volgende stappe gevolg in my konstruktivistiese onderrigleerbenadering:

  1. Laat die leerders (in hierdie geval onderwysstudente) lukrake opsommings skryf
  2. Laat die leerders mekaar se opsommings lees en kritiseer (sê wat hulle voel goed/sleg is van elke opsomming)
  3. Laat die leerders mekaar afvra hoekom ‘n sekere (deel van ‘n) opsomming goed/sleg is en laat hulle kenmerke (patrone) probeer identifiseer wat hulle kan toepas om hul opsommings te verbeter
  4. Laat hulle debatteer oor hoe om opsommings te bepunt, maar hou die oefening sigself ‘n formatiewe een (d.w.s. nie vir puntegee-doeleindes nie, maar vir selfverbetering).

In ‘n konstruktivistiese klaskamer gebruik jy die leerders se outentieke (eie/ware/egte/regte) tekste en ontgin die onderrigleer-geleenthede daaruit.

To state a theorem and then to show examples of it is literally to teach backwards. – E. Kim Nebeuts

Parodie in drie dele: opsomming

Standaard

‘n Goeie kreatiewe-skryf oefening vir hoërskoolleerders is om ‘n parodie van ‘n sprokie te skryf.

(‘n Parodie is kortweg ‘n spottery of verdraaïng van die oorspronklike teks; sprokies is feëverhale.)

Die hele skryfoefening beslaan uit drie dele.

Deel een: som die oorspronklike sprokie op

Laat die kinders gesels en lag oor sprokies.  Lys ‘n klompie op die bord en laat hulle twee-twee aan nog sprokies dink en die name neerskryf op ‘n wit papier.  Help hulle reg met die Afrikaanse benaminge vir Cinderella, Goldilocks en dies meer.  Onderskei tussen strokies en Disney stories en sprokies (feëverhale).  As iemand ‘n sprokie noem wat die ander nie ken nie, laat hom/haar kortliks vertel waaroor dit gaan.

Nadat die leerders (en die onderwyser) aan al die verskillende sprokies gedink het waaraan hulle kon, laat elkeen dan één sprokie kies waarvan hy/sy hou en goed ken.  En laat elkeen dan sy/haar sprokie in so tien tot vyftien reëls opsom.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n puntsgewyse opsomming van Hansie en Grietjie:

  1. Eendag lank, lank gelede hoor Hansie en Grietjie hoe hulle stiefma by hulle pa kla oordat hulle so arm is. Sy stel voor dat Hansie en Grietjie in die bos gelos word sodat daar genoeg kos vir hulle twee sal wees om te eet. Sy het nog nie gehoor van kindermishandeling, die handves van menseregte of welfare nie En sy het nie besef dat twee husse met lang ore afluister nie.
  2. Toe Hansie en Grietjie bos toe geneem is, laat val hulle ’n spoor wit klippies om hulle pad onverdwaalbaar te maak/ hulle weg terug te vind.
  3. Ná hulle verrassende terugkeer, fnuik die stiefma vir Hansie en Grietjie en sluit hulle by die huis uit en stuur hulle die bos binne sonder enige klippe. In die plek daarvan laat val Hansie en Grietjie broodkrummels om hulle pad terug te vind.
  4. Maar Slim vang sy baas, oftewel die bosdiere Hansie en Grietjie se krummels. Die eekhorings, miere, voëls en pofadders eet al die krummels op of steek dit êrens onder die grond weg langs hulle karsleutels. Gevolglik verdwaal Hansie en Grietjie.
  5. Hulle kom af op ’n lekkergoedhuisie en begin daaraan te peusel ten spyte van die feit dat dit sleg is vir hulle tande.
  6. Die lekkergoedhuisie se eienaar, ’n heks, of Die Heks, gryp vir Hansie en Grietjie en gooi vir Hansie in ’n hok terwyl Grietjie die huisie fluks begin skoonmaak.
  7. Die Heks voer Hansie dik sodat sy hom kan eet. Sy kan nie goed sien nie en voel telkens Hansie se vinger deur die tralies om vas te stel of hy vetter word.
  8. Grietjie gee vir Hansie ’n beentjie om deur die tralies te steek in plaas van sy vinger. So flous hulle Die Heks (wat duidelik nie te slim is nie én ook nie lekker kan sien nie) dat sy dink Hansie is baie maer.
  9. Uit desperaatheid besluit Die Heks om maar maer sop van Hansie te maak en sy kook ’n groot pot water op die vuur.
  10. Voordat Hansie egter in die sop kan beland (!), stoot Grietjie Die Heks in die vuur en ontsnap saam met Hansie uit die huis.
  11. ’n Groot wit gans laai hulle op en vlieg vir Hansie en Grietjie terug huis toe waar hulle ouers hulle met ope arms ontvang. Hulle slag toe die reuse gans, begin ’n verekus-singbesigheid en bêre die vleis vir happily ever after.

Okay, miskien is die opsomming hierbo nie die beste voorbeeld nie, maar nietemin.  As jy feëverhaal-boeke byderhand het, laat die leerders sommer tussendeur hulle sprokies naslaan om te kyk of daar inderdaad ‘n wit gans vir Hansie en Grietjie kom oplaai het.

Dis die eerste deel van die parodie-skryf: om die teks waarmee jy spot, heeltemal te ken.  (Jy sou die opsommings ook kon bepunt, of gebruik in latere taaloefeninge.)

Neem gerus deel aan hierdie skryfopdrag – probeer dit gerus:

  1. Lys in jou comment die name van sowat vyftien sprokies, en
  2. Kies dan een sprokie, en som hom op.

Ek lees graag julle opsommings!