Tag Archives: digvorme

Sukkel met sewe see cinquians

Standaard

Die digkuns is, volgens my, nie so gehul in die mistiek as wat ons dikwels dink dit is nie.  Almal kan dig; dis bloot ‘n vaardigheid wat jy moet slyp.  Of hoe?

Om gedigte makliker te skep, gebruik digters al eeue lank vaste digvorme om struktuur en vorm aan hulle gedagtes te gee.

Op skool leer ons van Engelse en Italiaanse sonnette, maar in Afrikaans is daar handiger digvorme, veral ontleen aan Oosterse digkuns, om ons woorde in te giet.  Prettige voorbeelde is die Haiku, Tanka en Pantoen, maar met hierdie inskrywing wil ek jou uitdaag om ‘n Cinquian te probeer skryf.

Speel ‘n bietjie rond; hierso is die patroon:

‘n Cinquian het vyf rymlose reëls, met altesaam sowat 11 woorde of 22 lettergrepe in die hele vers, wat soos volg in die reëls gegiet word:

  • Versreël 1: een woord (of 2 lettergrepe) wat die titel verskaf;
  • Versreël 2: twee woorde (of 4 lettergrepe) wat die eerste woord beskryf;
  • Versreël 3: drie woorde (of 6 lettergrepe) wat aksie weergee;
  • Versreël 4: vier woorde (of 8 lettergrepe) wat gevoel/emosie weergee;
  • Versreël 5: een woord (of 2 lettergrepe) wat ‘n ander woord vir die titel verskaf.

Hier volg my probeerslae – dis ‘n work in progress, so enige en alle kritiek is welkom!

SEWE  SEE  CINQUIANS

Lewensredder
Sonbruin kurwes;
Jy tuur deur skuimbrandings…
…langs lense wat jou lie(f)s beloer:
Lokaas-lyf

Vlieërs
Bont sterte
Wat swieg deur die winde –
Ons kyk oopmond na helder lig
Spieëlings

Kasteel
Hoë    torings
Opgestapel met sorg
En trots versier met wier en skulp –
Spoelsand

Kanoe
Rooi roeispane
Oor golwe deur bamboes
Roei ons rustig, ontspanne by
Onrus

Lyfplankryer
Jou lyf lenig
Teen die plank gedruk
In afwagting op die deining
Waaghalsseun

Visterman
Gehard en fris
Sirrrrrrits jy in ’n boog
Jou Weskushoek in die gety
Hardebaard

Nuwejaar
Lywe oral
’n gewoel en gelag
2008 vergaan in
Vuurwerke

Probeer gerus jou eie cinquian skryf, of help my met myne. 

Wat lekker aan dié digvorm is, is dat die cinquian jou help/forseer om jou woorde elegant onder mekaar te orden.

Probeer ’n pantoen!

Standaard

Probeer gerus om ‘n pantoen te skryf.  Dis ‘n digvorm waar versreëls in die daaropvolgende strofes herhaal.  In Afrikaans help dit jou veral om iets meesleurends te skep.

Die digvorm verg slegs ses oorspronklike reëls wat dan volgens die patroon verdubbel en gerangskik word om oor twaalf reëls te strek.  Die laaste strofe skryf heeltemal homself!  En rym is opsioneel.

Strofe 1

Reël 1
Reël 2
Reël 3
Reël 4

Strofe 2

Herhaal reël 2 (strofe 1)
Reël 5
Herhaal reël 4 (strofe 1)
Reël 6

Strofe 3

Herhaal tweede versreël van strofe 2 (reël 5)
Herhaal reël 3 (strofe 1)
Herhaal vierde versreël van strofe 2 (reël 6)
Herhaal reël 1 (die heel eerste versreël van die gedig)

In die gedig hieronder het ek my verbeel ek staan op my oorle ouma se woonstelbalkon en staar na die see, die verte in.

Langafstrand

Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe

Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus

Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison:

Lees nog pantoene op Estelleke se blog en speel-skryf saam.  Dit hoef nie meesterlike digkuns te wees nie; slegs ses reëls – ek is seker jy kan!