Tag Archives: facebook

Oornag het my Facebook in ’n boer verander, en vandag praat my WordPress ook Afrikaans

Standaard

Dis amazing.  Ek reken taalimperialisme het uiteindelik ‘n stille dood gesterf.

Want ons besef: elke tongval verskaf ekstra betekenis aan dít wie ons is – waaroor ons kan redeneer en dink en wonder; dit help skep aan ons realiteitsbesef.  Die klanke klink op na die hemel.

Soos die Xhosa-eufemisme vir doodgaan: -swekile [om te versuiker, oftewel soos suiker op te los en te verdwyn].  Pragtig, nie waar nie?  Vanaf ‘n taal wat kwalik tuishoort in die moderne eeu; nog nie ‘n noemenswaardige geskrewe literatuur opgebou het nie.

Daar is diegene wat nog wil laer trek met ‘n vergane leuse van “eendrag maak mag” en wil korrel na al wat ‘n kakie is.  Ons vir jou, Suid-Afrika.  Ons vir jou, Afrikaans.

Dít sonder enige strydbyl in sig.

Ek dink die wêreld het die “eenheid in diversiteit” aangegryp: ons glo en hoop en weet eintlik tog tereg dat dít wat anders is, nie ons hoef te bedreig nie, maar kan verryk.

Netmooi die anderdag het my Facebook in ‘n boer verander, die woorde daarso is oorvertaal (soms minder goed, maar nietemin) in Afrikaans.  Vandag merk ek op my WordPress dashboard noem haarself nou ‘n “instrumentpaneel”.

Ja-nee, die strydbyl is verroes en lankal begrawe.

Die vredesvlag is opgehys.

Dit wapper oor die hele wêreld heen.

Afrikaans: no lesser place.

hey, ja-nee, ek weet, ekt gelees op jou faceblog

Standaard

Van ‘n afstand herken sy my; ek vat ‘n bietjie langer (haar hare het ‘n anderste kleur), maar toe ons mekaar sien, is ek verbaas: “Lanklaas gesien!  Nie geweet jy’s hier rond nie.  Ek werk nou hier,” en ek wys na die universiteit.

“Hey, ja-nee, ek weet,” sê sy, “Ek’t gelees op jou faceblog.”

Ons gesels nog verder en lustig, maar ek liaseer dié gedagte en grinnik, want ek dink dis presies wat ek so tussen hierdie twee 2nd life apps doen.  Ek faceblog 😉

Life skills #3 – social smoking

Standaard

Facebook feeds verklap gedrag

Ek het onlangs ophou onderwyser-wees by ‘n skool in Kaapstad. Om kontak te behou, het ek enkele leerders ge-add as facebook-friends. Eers net een of twee matrieks; toe ‘n kranige graad 11 skaakspeler wat my lesse sal mis, en daarna sommer ‘n verskeidenheid graad 8 tot 10’s.

Nou sit ek met ‘n hele spul van hulle.

Dis uit hulle facebook news feeds (videos, foto’s, posts) lat ek die volgende aflei:

  1. hulle rook
  2. hulle drink
  3. hulle vloek
  4. hulle vry

…al van vroeg af.

En dis die soetes.  Hulle is nie skaam daaroor nie; inteendeel, hulle comment trots oor-en-weer op mekaar se kuierfoto’s.  Selfs hulle profile pics is dikwels riskant.

By ‘n onlangse house party is ‘n honderd drankbottels in swartsakke na die tyd weggegooi – en is die gasheer-kuiergat nou tot April gehok.  Shame.

Persoonlike welsyn – Those who do not, teach

Dit laat my dink dat daar in heelwat gevalle leerders is wat meer “lewenswys” is as die onderwysers wat hulle onderrig.  Leerders wat al meer rondgetoer het deur die wêreld, meer upper-class funksies bygewoon het.  Al van veel vroeër af deur die strate van Kaapstad gecruise het en eerstehands met seks, dwelms en emo te doen gekry het.

Hm, miskien is “lewenswys” nie die regte woord nie, maar nietemin, julle verstaan wat ek bedoel.  Hulle ken die kuierplekke in Kaapstad en die kunsgalerye van Amsterdam.

Dis in die lig hiervan dat ek versigtig is om “klas te gee” in die bogenoemde vier punte (rook, drink, vloek en vry).  Ek gaan eerder praat oor social smoking – en wag dat julle vir my vertel wat julle opinie is daarrondom.  Die comments kan anoniem wees; jy hoef nie jou naam te gee nie.

To smoke or not to smoke

Ek vermoed dat dit deesdae ‘n sosiale plig is om te leer rook.  Dis deel van menswees – hoe jy met rokers omgaan (sonder om hulle bv. te veroordeel vir ‘n bad habit).

Alhoewel daar strenger wetgewing is oor waar jy mag rook, en die pakkies vol waarskuwings is, bly rook ‘n sosiale verskynsel.  Biljoene mense rook desondanks die longkanker, emfiseem, geel tande, geel vingers, en slegte asem wat dit hulle gee.  Want dis lekker.

Hoekom brandende stuff inasem?

Miskien voel jy rook is regtig vuil en ‘n afskuwelike gewoonte.  En jy’s reg.  Die idee van teer inasem, is nie aanloklik nie, maar nikotien en ander narkotika (dwelmmiddels) word maklik en vinnig deur die longe direk in die bloedstroom opgeneem, so die uitwerking van iets inasem, het dikwels ‘n vinniger reaksie as om iets te kou/eet/in te sluk.

Die lekker stuff wat jy inasem met sigarette is nikotien – dit reageer (chemies) met die endorfiene en dopamien in jou brein wat jou ‘n ligte high gee.  Sterker dwelmmiddels soos dagga, heroïen, coke en tik het sterkter chemiese reaksies in jou liggaam – en spesifiek in jou brein wat permanente skade aanrig.

So, hoekom leer rook?

Wel, dis moeilik om jonk te wees, uit te gaan na ‘n kuierplek, en nie met rokers te doen kry nie.  So, jy moet leer hoe om sosiaal in te pas en die rokery-storie te doen, of nie te doen nie, met styl either way.  Die groot rede hoekom jy moet leer van rook, is sodat jy nie verslaaf raak aan sigarette (of ander goeters) nie.

Jy wil nie verslaaf raak nie, omdat dit vir jou baie geld gaan kos (veral as jy ‘n pakkie ‘n dag gaan rook), jou gesondheid obviously gaan opneuk, en nie cool gaan wees as jy die heeltyd met ‘n sigaret in jou mond moet sit nie.  Dis dalk okay om in ‘n sosiale konteks ‘n sigaret vas te hou, maar om in die reën buite te moet gaan staan omdat jy nie sonder ‘n sigaret kan klaarkom nie, is net sad, dink jy nie?

Hoe om nie verslaaf te raak nie

  1. Wanneer die hubbly jou kant toe kom, sê dit het jou laas keer so naar gemaak, dat jy nooit weer wil hubbly rook nie.
  2. Of puff eerder die hubbly net ‘n bietjie, moenie dit te diep inasem nie.
  3. Of asem dieperig in die tweede keer, proes ‘n bietjie, en puff die res van die aand, en pass dit redelik gereeld aan.
  4. Wanneer mense sigarette aanbied, sê nee, jy sukkel met jou asma.
  5. Of puff die sigaret ‘n bietjie, maar moenie diep inasem nie.
  6. Of sê net nee, jou ouers/oom/broer rook soos ‘n skoorsteen en jy dink dis ‘n crap idee.
  7. Of asem dieperig in een of twee keer, maar puff die res van die sigaret maar net, en moenie nog ‘n derde en vierde sigaret die aand rook nie.
  8. Sê maar eerder nee vir shaky goed as jy nie weet wat iemand vir jou aanbied nie; jy weet nie watter stuff is in ‘n spliff gerol nie.
  9. Dalk kan jy die een wees wat sigarette aanbied, of dit rol, of die lighter/vuurhoutjies het, maar probeer om eerder nie die ou te wees wat heeltyd bum by die res nie.
  10. Fokus op die grappe en die gesels, hoe meer jy praat en deelneem, hoe minder het jy ‘n sigaret in jou hand nodig om jou mond mee besig te hou.

As jy hou van rook – dan rook gerus.  Maar doen dit soos wat dit bedoel is om te doen – as ‘n sosiale ding.  Soos wat die Xhosa’s in die Oos-Kaap dit destyds met hulle lang pype gedoen het, of die Indiane, of jou oupa op die plaas se stoep met ‘n langsaam-gestopte tabakpyp waaraan hy heelaand teug en stories aan die kleinkinders vertel.

Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir dwelmmiddels – stuff wat jou aanvanklik (dalk) “happy” laat voel en later laat kots, maar dis nie alleen, agter die muur op die skoolgronde se verbode terrein nie.  Geniet dit om te rook, tussen vriende, met ‘n gelag en ‘n gesels.  Nie a.g.v. ‘n craving nie.

Of hoe dink jy?  Moet leerders sommer in ‘n LO-periode sigarette en ‘n ligther kry sodat hulle kan proe hoe dit proe om te rook?