Tag Archives: Wakkerstroom

Roadtrip #7 – O, die dans van ons drie susters

Standaard

drie-susters_img_0083

Op pad Colesberg toe, vanaf Laingsburg, vanaf Stellenbosch, verby die Drie Susters, dag 1, pak die wolke saam.  Dit reën storms in die Kaap, en my sambreel lê op die agtersitplek, maar hier, verder weg, raak die land droeër en die skakerings vaal.  Onze drie susters sluimer, uitgestrek met hul bultjies orent.

* * *

DIE DANS VAN DIE REËN – Eugene Marais
  Lied van die vioolspeler. Jan Konterdans.
  Uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

[Uit: Versamelde gedigte – Eugene Marais]