Tag Archives: onthou

tingerig-fyn soos ’n huismot in jou hand

Standaard

tingerig-fyn soos ’n huismot in jou hand

en slank en vreedsaam: stil staan jy
stom van herinnering
’n sagte sprong soos liefde

>>

…jou gedagtes begrawe jy op dié krans
en jou wonder-oë blom van herkenning
(diepblou en sag met wolke wat daarin kaats)

’n bewussyn soos ‘n veer wat val
(op die wieke van die wind sou jy sê)

>>

…die onthou sag soos sweet-
potente vingers wat vind en teer vasvat
die reuk van lentegras wat haar ore ligweg krap
ja dáár

dáár kom begrawe jy presies jou geurige aandag
in die vlugtige heraanraking
van jou voorjaarsgrond

rougevreet die rotse

>>

jy raak presies dít aan sonder vreugde soos
wanneer lewe bloot gebeur of soos ’n terloopse dood
bloot nog ’n tree
op die krans van leë gedagtegange
(erosie)
ja, ’n sagte sprong
waar die wolke kaats in jou oë

>>

en jy: ’n smeersel huismot op ’n oop palm
tingerig-fyn

die sand

Xhosa #8 – Toets jou kennis!

Standaard

xhosa_seuntjie_iiEk het lanklaas ‘n Xhosa-les gepost.

Laas  het ons op naamwoorde gefokus, spesifiek die Xhosa-woorde vir liggaamsdele.

In Xhosa #6 het ek die volgende Xhosa-naamwoorde gegee: kop, nek, been, voete, knie, borskas, hare, hand, hemde, broeke en atlete.

In Xhosa #7 het jy nog woorde gekry: oog, mond, tand, neus, ken, wenkbrou, onderarmholte, maag, tepel en liggaam.

Hoe het jy te werk gegaan om dié nuwe woorde te onthou?  En hoe suksesvol was jy?  Kan jy die volgende woorde na Afrikaans vertaal:

ikhwapha, umlomo, umlenze, impumlo, isilevu, iinyawo, ingono, iihempe, iibhulukhwe, isifuba, iliso, ababaleki, idolo, intamo, intloko, iinwele, ushiyi, izinyo, isandla, isusu, umzimba…?

Indien nie, moet ons fokus op onthou-vaardighede en hoe om nuwe woorde aan te leer.  Daarvoor moet ons weet hoe om ons hele brein in te span vir die oor-en-weer onthou-proses.

Hoeveel woorde kon jy sedert laas les onthou?  Het jy volpunte?  Is daar woorde wat jou makliker bygebly het?  Hoekom?

imaginary vs memory

Standaard

Verbeelding en werklikheid vervleg soms as jy sopas uit ‘n droom wakker word, verboureerd tussen die onthou en die verbrou.

(Of as jou gedagtestroom wegvloei van vervelige waters, dan swaai jy skielik aan die kerk se kandelare in jou kop.)

(Of as jy geboei word deur ‘n boek of ‘n fliek; die intrige so intens dat jy dit integreer met jou geheue. )

(‘n Ou foto met staaltjies; later sweer jy jy was daar.)

Enkele oomblikke, waarvan almal allermins gebeur het.

* * *

In ‘n koffiewinkel sit ons: kleindogtertjie, dogter, ouma, vriendin en ek.  Eet kaaskoek en steel die stoom se asem.  Teug met ons oë op die see.  Maar nie vir lank nie.

Die blondekop dogtertjie wil telefoontjie speel, en fluister ‘n woord in haar ma se oor, en die boodskap volg die pad tot my, aspris verdraai.  Sy lag.  Weer en weer en weer.

Volgende game.

Vrae.  Oor seemeeue, Robbeneiland, allerande dinge.

En soos ek vertel van enkele hees drake wat nog op Robbeneiland ronddwaal, en hoe ‘n mens seemeeue aan mekaar kan vasbind om soontoe te vlieg, en hoe die mense heeltyd sandkastele daarso bou en skulpe plattrap – so roep sy my tot stilte.

Nuwe game!  Imaginary vs memory.

En soos wat sy dit sê, dink ek sjoe, dis nogals skerp vir ‘n sesjarige.  Hier dink sy sommer balderdash in ‘n oogwink uit.

En toe speel ons ‘n spel wat ek vermoed, sy haar hele lewe lank sal moet volhou.

Om te stut en hamer #3

Standaard

Hierso is ‘n derde, en vir eers die laaste, gedig van Ronnie Elliott wat ek gaan post.  Hy het nog 52 ander wat ek sou kon opsit, maar ek dink ons moet hom dit maar spaar.  Kom ons wag eerder vir sy debuutbundel?  Of hoe dink julle?

Druppelskiete en skerwe onthou
vir gogga

 As die reën so stukkend val teen die huis en vensters (soos muskiete)
 dan dink ek graag aan jou, my gogga
 en hoe jy in in jou slaapklere lyk wanneer jy daai stinkgoed aansmeer
 om die nagetters soos jy hulle noem weg te hou

 ek onthou watse moerse frustrasie dit vir jou was as die vlieë so in jou kombuis
 kom partytjie hou of dalk selfs ’n orgie
 en dan sal jy altyd kla oor die bliksemse goed wat so vinnig geepad
 as jy hulle met die vlieëplak wil bykom

 die aand wat jy so stýf teen my gelê het kraak nog in my geheue
 toe die spinnekop vanuit nêrensniksnadda gekom het om op jou arm te sit
 die fok weet jy’t jou gat afgeskrik daai aand (moenie worry nie, ek ook!)
 jy wou nie eens in ons bed meer slaap nie ons het toe maar in die gastekamer gaan lala

 dan dink ek ook terug aan die dag toe my broer die seekat gevang het
 die ding het nog aan jou vasgesuig en jy’t so gegil ek moet erken dit was te kostelik
 my ding, jy’t aan my vasgeklou ámper soos daai seekat
 en jy’t gesê jy wil huistoe gaan en ek’t geglimlag en gesê ai, my skat
(en die mense in die omtrek het ons nog vreemd aangekyk toe ons soen).

Ronnie Elliott
2007/05/20