Monthly Archives: April 2008

weg na wakkerstroom

Standaard

Dikwels wanneer jy besonder besig is (of moet wees) begin jou kop raas.

Soos wanneer jy ‘n aanbevelingsrapport (tipe notule) skryf van ‘n vergadering wat 8 ure lank aangehou het en dokumentasie van 1147 bladsye beslaan.

Dikwels dartel my gedagtes dan weg na alternatiewe realiteite.  Ek noem hierdie alternatiewe aardrykskunde van nou af: “Wakkerstroom”.

Ek het onlangs gehoor van dié plek, en ek moet sê dat die naam van dié dorp (wat werklik bestaan!) my onmiddellik bekoor het, nog voordat ek kon besef dis geleë duskant die geilgroen Drakensberge.

Die naam roep Jungiaanse (onderbewussyn) gedagtestrominge by my op – en ek kan myself net ‘n niksnêrensnadda-dorpie indink waar ‘n mens kan ontsnap aan vergaderings en werksverbande dinge van ons samelewing.

In ‘n vervalle, klein huisie kan jy lees en skryf en skilder sonder inmenging van die kompleksiteite van ons alledaagse bestaan.

In Wakkerstroom is alles altyd waar.  Dis net ‘n koffieteug weg.

Die weerlig slaan daar onophoudelik die grond – meer as in enige ander deel van Suid-Afrika.  Dink dus ook aan wisselstroom.  wisseldroom.  wakkerdroom.  wakkerstroom.

Daarheen gaan ek binnekort ontvlug.

Langs die kabbeling van ‘n kleine zoeloe-riviertjie.

Wakkerstroom

op die loop toe

Standaard

Soos ‘n goeie vriend groet ek hom soos ons mekaar raakstap op die Rooiplein.  Ons gesels; hy loop saam tot by Admin B, en ons groet weer.

Eers later besef ek dis die eerste keer dat ons “ontmoet”, oftewel dat ons mekaar groet én hy weet wie ek is.

So, Bertus! – wanneer drink ons drie koffie? …ek is seker Johan Swarts ken ‘n plek met vegetariese toebroodjies wat rock.

lê die leë spasies nou

Standaard

So, toe het ek Vrydag met my baas koffie gaan drink – op sy aandrang.  Hy het my geprys vir my uitmuntende werk.  (Dié dat ek so lanklaas geblog het…)

En toe voel dit na die regte tyd vir my om hom te sê dat ek wil bedank.  (Dalk vir ‘n rukkie halfdag-werk, maar eindelik wel bedank.)

Die probleem met die werk is dat alles heel goed gaan; ek som verslae op, skryf notules, en ek doen dit goed.

Vandaar die rede dat ek moet bedank.  Dit help tog nie ek’s êrens waar dinge “goed” gaan nie.  Dan raak ‘n mens oorbodig – ek is op soek na ‘n plek waar ek meer “nodig” is – waar wat ek doen, “sin” het…  (of ‘n ruimte waar ek bloot kan skep en onttrek van die wêreld vir ‘n rukkie).

Hm, so what to do, what to do?  What makes a life worth living?

Het die naweek weer stad toe gery en by ‘n vriendin, nog ‘n vriendin, drie oud-kollegas, my ouers en my beste pel gaan kuier.  En twee goeie flieks There will be blood en Juno gekyk.

Hmf.  Die norme van die samelewing walg my ook.  En my vertroue in die bestaan van ‘n groter, edele “doel” is all gone.

So, buiten vir die bestaan van vriende, langnaweke en vakansies – wat doen ons hier op aarde?  Moet ‘n werk/beroep jou definieer?  Moet jy kwansuis ‘n bydrae maak as deel van goeie burgerskap?  Moet jy ‘n derde van elke weeksdag prysgee?  Moet jy smag na hoër aansien?  Trots daai leer klim?  Of bloot voortplant?

Gmpf.  Die see is ‘n ewige eierstok.  Die aarde hopies grond omgedop.  Die hemel ‘n leë eierdop.

Haha, hulle sê “‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop…  maar al die halwe eiers wat nog na my kant toe gekom het, was vrot.” 

Enige raad?

Handleiding vir maklik ‘n taak maak!

Standaard

In die nuwe UGO kurrikulum word daar gereeld verwag dat leerders (veral grade 8 en 9) take moet maak.

Waar ons ouerige mense dus destyds bloot wiskunde-somme moes doen, moet leerders deesdae iewers gedurende die kwartaal ook ‘n taak oor Gauss, Pascal, Euclides of die Pythagoras-bende inhandig.

Alhoewel dit ‘n great idee is, en vir leerders die moontlikheid bied om regtig ‘n wyer verstaan van ‘n vak te kry, word take dikwels net ter wille van ‘n punt in ‘n portefeulje gedoen – juis omdat elke leerarea so besaai is met dié tipe van opdraggies.

(Vir skole lê die uitdaging daarin om verskillende leerareas se opdragte so te integreer dat leerders minder, maar volwaardiger take kan inhandig.)

So, as jy ‘n leerder is en wil weet hoe om werklik ‘n taakopdrag behoorlik aan te pak – en nie net iets van die internet te copy & paste en dan vrotterig te vertaal nie, dan moet jy my handleiding (taakmaak_handleiding_aem20061) aflaai, uitprint en rustig deurlees.

Dit behoort vir jou ‘n goeie idee te gee van wat die verskil tussen “naslaan”-werk en “navorsing” is.

Oornag is dit winter

Standaard

geute vol (blare)

oornag is dit winter en

gryp jy my (hand) vas

< haiku >

o, verspotte sloot

verstopte sloot    stap ek al-

leen (deur) die blare

< haiku >

ek dog nog jy rek

na my hand, vingers vervleg

toe leu(e)n jy weg

< haiku >

alleen al leuen

wandel ek Victoria

strate stadig stil

< haiku >

stratedig stroof ek

my vingers verherfs vergeefs

tot leë siele.

< haiku >

so skryf ek nou maar

patetiese haikoes son-

der rym of seisoen.

< haiku >

…want sy soen nie   maar

lê elders     (sonder haikoes)

(wat seisoenig bloei)

< haiku >

haar soen sysag   op

r/nuwe lippe    horison

blom (met valstande)

< haiku >

hoor die son langs haar

kus – nou ru – breek soos branders

teen die rotswang vas

< haiku >

stukkies pers skulp steek

brandend oral waar ek stap

(__  _____  ____  ___)

…van Victoria tot Kloof

Standaard

‘n Metro (eersteklas) treinkaartjie vanaf Stellenbosch tot Kaapstad kos R12.  Vergelyk dit met die petrolpryskoste per motor: R12 is goedkoop.

‘n Trein is gerieflik: jy hoef nie te konsentreer op die verkeer op die pad nie, jy kan rustig lees, lekker gesels, aangaan met werk of bloot ontspan en die mense rondom jou dophou.

Baie mense is bang vir treinry in Suid-Afrika.  Dit is kwansuis gevaarlik.

Maar ek daag julle graag uit – klim een Saterdag saam met my op die trein – ons ry in die oggend deur Kaapstad toe, gaan fliek in die stad of drentel rond in Groentemarkplein, by die Adderleystraat blommeverkopers, of in die kunsgalery in die Tuine.  Ons stap tot in Kloofstraat en dan wys ek vir jou Arnold’s waar ‘n mens ‘n English breakfast vir R8 kan bestel.

Of as jy in Kaapstad is, klim saam met my op die trein en ry deur tot by die Bolandse berge; kom saam op ‘n wyntoer of drink koffie vir veels te lank in ‘n Sondagkraal-restaurantjie se binnehof, of kom kyk ‘n musiekuitvoering in die Endlersaal en draal op in Victoriastraat onder die laning bladverwisselende plataanbome.

(Kom op ‘n reëndag – kom drink bossietee en steel die stoom se asem.)

Baie Suid-Afrikaanse kinders word so beskermend groot agter hoë mure en elektriese heinings dat hulle nooit die goeie, decent working class mense van Suid-Afrika sien of opreg beleef nie.

Kom ry saam met my trein; klim uit op die stasie, vat saam met my ‘n taxi en pass jou kleingeld vorentoe.

Ek guarantee jou – jy sal nie gou weer kar wil ry nie.

* in antwoord op Karl se uitdaging.

Aspris #5 – doelgerig of poelgerig?

Standaard

. . . imagine a puddle waking up one morning and thinking, ‘This is an interesting world I find myself in, an interesting hole I find myself in, fits me rather neatly, doesn’t it? In fact it fits me staggeringly well, must have been made to have me in it!’ This is such a powerful idea that as the sun rises in the sky and the air heats up and as, gradually, the puddle gets smaller and smaller, it’s still frantically hanging on to the notion that everything’s going to be alright, because this world was meant to have him in it, was built to have him in it; so the moment he disappears catches him rather by surprise. I think this may be something we need to be on the watch out for.

The Hitchhiker’s guide to the galaxy  Douglas Adams

Life Skills #9 – (on)afhanklik wees

Standaard

Jouself wees ten spyte van cool Blouberg ouers

Hierdie blog-les sluit aan by die kurrikulum van die nuwe matriekvak, Lewensoriëntering en sluit aan by die tema van Persoonlike welsyn

Wie jy is, hang af van drie (dalk meer) dinge:

  1. Jou gene (die eienskappe wat jy van jou ouers geërf het met geboorte)
  2. Jou omgewing (huis, skool, werk, vriende)
  3. Jou denke (jou idees van jy-wees)

Jy sou nog elemente tot die bostaande lysie kon voeg, soos 4. God of 5. Die noodlot, maar kom ons fokus op die drie wat ek hierbo noem.

Jy kan nie veel doen aan 1. Jou gene nie.  Jy is nou maar gebore met ‘n lang neus en ‘n sproetgesig.  Dit help nie jy blameer jou voorgeslagte daarvoor nie, want dis nou maar ‘n lucky packet wat jy kry as ‘n spermsel en ovum saamsmelt; ten minste is jy uniek.

Jy kan ook nie, as kind, veel doen aan die omgewings waarin jy jouself elke dag bevind nie.  Jou huislike omstandighede, die skool waarnatoe jy gaan, dagtakies wat jy moet verrig en die mense rondom jou, is nie noodwendig veranderlikes waaraan jy iets kan doen nie.

Jy kan jou denke wel wysig en jouself in ‘n positiewe of ‘n negatiewe lig beskou.

Die invloed van jou ouers

As jongmens besef ‘n mens dat jou ouers ook net mense is.  Hulle het foute, sterkpunte en swakpunte, menslike emosies en als wat met menswees gepaardgaan.  Maar iets wat jy nie kan ontken nie, is dat hulle ‘n groot invloed op jou lewe het.

Jou ouers het bepaal wat jou genetiese samestelling (1. jou gene) is; hulle bepaal in watter gemeenskap (2. jou omgewing) jy jouself bevind – of jou ouers geskei is, of jy in ‘n crappy skool is, of julle welgesteld of arm is, en hulle bepaal nogals hoe jy oor jouself dink (3. jou denke).

‘n Groot deel van wie jy is, word dus deur jou ouers bepaal, of jy nou daarvan hou of nie.

Die dinge wat ouers doen

Om kinders groot te maak, is ‘n ontsaglike moeilike lewenstaak.  Dit is alreeds moeilik om net in die grootmenswêreld kop bo water te hou wat werk en inkopies doen, kook, klerestryk, rekeninge betaal en vriendskappe in stand hou, betref.

Dis moeilik om ‘n liefdesverhouding met iemand te hê en aan albei se behoeftes te voldoen. 

Om bo- en behalwe dit, ‘n baba groot te maak wat heelnag huil en kerm, doeke vuilmaak, ‘n kind word en vreemde goed aanvang, en dan ‘n tiener word met nukke en emosies en aggressiewe gedrag, is moeilik.

Ouers kan oral verkeerd gaan.

Die dinge wat ouers verkeerd doen

Neem as voorbeeld die geval van die cool Bloubergstrand ouers.  In Blouberg het daar ‘n rykmanskind suburbia ontstaan vir Afrikaanse gesinne.  Die meeste van die gesinne het middelklas grootgeword, maar met effense sakevernuf skielik ryk begin word.  Klein gesinne, groot huise, mooi uitsig, cool surfspots.

‘n Mens sou dink dat kinders wat uit so ‘n gemaklike, homogene gemeenskap (samelewing wat eenders is) kom, min probleme sal hê, want duidelik het hulle cool ouers – ouers wat hulle kinders laat surf, poegies vir hulle koop en aparte leefareas vir hulle skep.  Privaat tutors betaal om met sukkelvakke te help, en fizzy alkoholdrankies en bier te verskaf vir kuieraandjies by iemand se huis in die omtrek.

Tog is alles nie perfek nie. 

Dalk is jy ‘n leerder wat sien dat ander kinders dit net soveel makliker as jy het – hulle dra cooler klere en word meer vryhede gegun; hulle het nuwer selfone en onbeperkte internet en DSTV, soos die Bloubergstrand-kinders.

Maar wat jy nie onder die oppervlak sien nie, is dat die ouers hulle kinders as pionne gebruik om by te bly by die ander families.  Die druk vir die ouers om cool te wees is groot en die mees byderwetse gesinne is dié wat die meeste vryhede vir hul kinders gun.  So is daar dominees se kinders wat vrylik seks het, drank wat by org-partytjies in groot volumes opgegooi word, en dagga en sterkter dwelms wat in oorvloed gebruik word.

Die kinders is so cool dat hulle geensins besef wat die nut van harde werk of deursettingsvermoë is nie; hulle leer hoe om hulle ouers te manipuleer om ‘n nuwer rekenaar vir facebook en selfoon vir MXit te kry.

All is not well in Paris and Rome.

Om groot te word 

Soos ‘n mens die einde van hoërskool nader, word ‘n mens meer onafhanklik.  Jy dink vir jouself.  Jy doen vir jouself.  Jy skep die omgewings waarin jy wil wees en kies die vriende met wie jy wil uithang.

Jou gene speel nog steeds ‘n rol t.o.v. watter hartsiektes en kanker jy sal ontwikkel, maar teen einde hoërskool moes jy al ‘n redelike idee kon kry van waarmee jy goed is en waarin jy sleg is, sodat jy die bepalende invloed wat gene op jou het, kan minimeer.

Jy sal altyd verskuldig bly aan jou ouers – vir hulle foute (wat jy dalk makliker raaksien) én vir hulle opofferings; vir hulle menswees wat hulle met jou deel/gedeel het.

Die groot lewenstaak wat jy moet deurmaak tydens hoërskool is nie om onafhanklik te word in die sin dat jy wegvlug uit die huis nie, maar om onafhanklik te wees in jou denke, jou vriende en jou identiteit.

En hopelik nie afhanklik te geraak het van rook, drink, vloek of vryery nie.

Sterkte!