Monthly Archives: Augustus 2010

Ek weet sy is gisteraand as HK-lid aangewys, want sy het ’n plakkaat om haar nek, kersversierings op haar kop en HK + haar koshuisnaam in swart geskryf op haar wange

Standaard

Sopas op die Rooiplein stap ek verby ‘n student wat verby my stap.

Ons ken mekaar nie.

Maar ek weet sy is gisteraand as HK-lid aangewys, want sy het ‘n plakkaat om haar nek, kersversierings op haar kop en HK + haar koshuisnaam in swart geskryf op haar wange.

* * *

So, toe keer ek haar voor (miskien moes ek net aangestap het) en wens haar geluk.  En twee sinne dieper in die gesprek vra ek haar tog hoe sy voel om só opgedress te wees.

Sy glimlag net trots en sê sy gee nie om nie, mense wens haar die heeltyd geluk.

* * *

Nietemin probeer ek maar weer, tipies ek, om haar vinnig die praktyk meer krities te beskou – en vertel vir haar van manlike HK-lede wie se hare destyds vir dieselfde doel geskeer is – en vra of sy nie aan ‘n meer waardige manier kan dink om dieselfde doel (jou vriende te laat weet jy is tot ‘n leiersposisie verkies) te bereik nie – dalk as die uittredende HK hulle baadjies kon uitleen vir die dag?

Maar nee, die praktyk is goed en reg.  En sy koop nie die gedagte om dit dalk in die toekoms (volgende jaar as sy die nuwe HK-lede sou gelukwens) effens anderste te doen nie.

Ons groet, darem heel vriendelik.

* * *

Vreemd dat ons hierdie rituele het: ons verneder die nuwe HK-lede so ‘n bietjie (sodat hulle hul plek ken), en dan ‘n maand later reik hulle pragtige foto’s uit aan ander huiskomitees om te wys watse dames/gentlemen hulle as groep is – ‘n skynbeeld/image wat hulle ook later voorhou aan die nuweling-eerstejaars.

* * *

Ek verstaan die studentepret-element hieraan.

Daar is baie ander dinge wat ook aan nuutverkose HK-lede gedoen is/word.  In sommige koshuise dra hulle jou kamer leeg en skuif al jou goed badkamer/quad toe.  In ander gevalle wag die verrassing op die HK-kamp waar jy kaal uitgetrek word, vasgebind aan die ander nuweling-HK-lede en iewers afgelaai word om kilometers ver in die reën terug te stap, besmeer met rooi-aas en geslaan met ‘n lat.

Teen studentepret is ek nie gekant nie, allermins, maar ons moet tog bedink hoekom ons sulke dinge doen – waarom het ons die behoefte om ‘n mede-volwassene, vir wie ons sopas verkies het tot ‘n verteenwoordigende posisie, soos ‘n kinderpartytjie-ganger aan te trek?

* * *

Dalk is dit nie ‘n lat nie; dalk word die hare nie geskeer nie, maar die doop-beginsel is steeds so duidelik soos daglig.

* * *

Dalk is dit maar hoe dinge is.

Die rol van die nar(rator) in die onderwys

Standaard

In die verlede was storievertel die enigste wetenskap; die enigste pedagogie.  Feite verweef met fiksie.

Kollektiewe kennis is deur oorvertel oorgedra.  Soms by die vuur, soms in die veld, soms langs die rivier.  Deur storievertel en self-probeer.

Kinders om ‘n kampvuur die klaskamer.

* * *

Die rol van die narrator – die ene wat die stories opmaak en oorvertel; wat die kinders se oë laat rek, en die jongelinge laat skater – is steeds vandag relevant.

Tussendeur die powerpoint slides en internet, word die meeste klasgee nog steeds met bordkryt en praat gedoen – en die vermoë van die onderwyser om leerders met blote woorde mee te sleur; hulle verbeeldings te prikkel; hulle te laat lag – bepaal nog merendeels die sukses van kenniskonstruksie by die kind.

* * *

Maar vertel ons nog genoeg stories?

Laat ons nog genoeg aan kinders se verbeelding oor – om self kamma-werklikhede in hulle koppe te skep?

* * *

Ek dink die wêreld sal ‘n beter plek wees as onderwysers vir kinders Die Kleine Prinsie lees, die verskillende karakters se stemme namaak en hulle die verskillende planete laat onthou.

(Later sou hulle die planete as mind mapping tool kon gebruik – en feite wat hulle moet memoriseer bêre op die ryke verbeeldingswêrelde wat hulle in hulle gedagtes geskep het.)

Wat is die nut van ’n inwonende hoof by universiteitskoshuise?

Standaard

Ek is laasjaar gevra om uit te help as ‘n besoekende hoof vir ‘n privaatwyk – ‘n pos wat onverwags in Januarie tot ‘n tydelike inwonende-hoof amp verhef is.

Dit is nie sleg nie – daar is heelwat voordele: jy kry gratis verblyf en gratis kos.  Nadele is: jy het min privaatheid en heelwat administratiewe lastighede om uit te sorteer.

Maar wat is die doel van ‘n inwonende hoof?  Hoe meet ek of ek goed is?  Wanneer kan my huislede begin mor dat hulle iemand anders wil hê?  Watter kriteria moet daargestel word waarvolgens my prestasie gemeet kan word?

En… is ‘n koshuishoof hoegenaamd nodig?

* * *

Tans is daar in al die koshuis- en privaatwykstrukture studenteleiers wat verkies (of soms, in die geval van nuwe omgewings, aangestel) word om die operasionele take te verrig.  ‘n Huiskomitee reël die danse, jool en sosiale weke.  Mentors en akademie ressorteer ook onder ‘n HK-lid.

Hierdie operasionele verantwoordelikhede sou ook in komiteeverband nagekom kon word, met leiers wat minder bestuursfunksies verrig en veel meer tyd en aandag aan verteenwoordigingsfunksies bestee.

Nietemin, wat hierdie operasionele verantwoordelikhede betref, is daar, volgens my, altyd drie dinge waarmee studente sukkel:

  1. Kontinuïteit (oplei van nuwe leiers om idees verder te dryf en die impetus te behou)
  2. Volhoubaarheid (projekte wat nie van eenmalige borgskappe of ‘n individu se kontakte afhanklik is nie)
  3. Wetenskaplikheid (algemene kritiese denke en debat, en meetbare verslagdoening)

Vir al drie bogenoemde het jy tyd en ondervinding nodig – twee luukshede wat studente nooit het nie.  ‘n Akademiese jaar bestaan eintlik maar net uit ag maande, eksamens en vakansies uitgesluit.  Dit bied die leierskorps net genoeg tyd om die reeds-gevestigde aktiwiteite te reël.  En leiers dien meestal net vir een termyn in ‘n leiersposisie.

* * *

Wat die verteenwoordigende rol van leiers betref, sukkel studente dikwels met:

  1. Multikulturele en sosio-ekonomiese verskille tussen studente (‘n begrip van die Ander en sy/haar behoeftes)
  2. Demokratiese leierskap (transformasioneel teenoor transaksioneel – waarmee studente meer vertroud is)
  3. Kommunikasie (vergaderings, briewe, sms’e, e-posse, notules, en die fasilitering van gesprekke)

Hiervoor het hulle verkieslik vooraf ondervinding nodig, maar ook begeleiding deur die loop van hulle termyn, vermoed ek.

* * *

‘n Mens sou kon vra of die huidige studentestrukture ooit nodig is – veral in ‘n universiteit waar die studenteprofiel verander vanaf voorgraadse, koshuisinwoner na nagraadse privaatstudent… maar kom ons los daardie vraag vir ‘n ander dag.

Gegewe die huidige koshuisstrukture, is ‘n inwonende hoof van enige nut – buiten om ‘n wakende oog te hou en soms krisisbestuur toe te pas?

* * *

In ‘n vorige era is daar gepraat van koshuismoeders en -vaders en is hulle rolle gedefiniëer soos dié van ‘n waarnemende voog.  Jy stel die reëls in plek, jy versorg en ondersteun die studente, en skakel met die ouers.

Alhoewel bogenoemde nog steeds verwagtinge is wat gestel word, vermoed ek, lê die waarde wat ‘n besoekende/inwonende hoof kan inhou, veral op ‘n langer termyn strategiese vlak.

Juis te midde van die hoë omset van studente, kan inwonende hoofde ‘n betekenisvolle rol speel om kontinuïteit in die studenteleierskap en -inisiatiewe te verseker, om te sorg dat slegs volhoubare projekte aangepak word, en om ‘n wetenskaplike etos t.o.v. verslagdoening en rapportering te kweek.

En wat die definisie, verwagtinge en pligte van ‘n leier betref, kan ‘n hoof die strukture en die huis veel meer begelei om vaardighede te bekom, diversiteit te waardeer, krities te dink en ‘n verantwoordbare stem uit te bring, en meer strategies te kommunikeer in groot- en kleingroepsverband.

* * *

Ek sal nog verder hieroor moet dink en, soos ek meer ervaring opdoen van en oplees oor studenteleierskap, hieroor reflekteer.  Ja, hoofde moet ook skakel met die universiteitsowerhede, fasiliteite en instandhouding, en ‘n oog oor die huiskas hou.  Maar watter eienskappe sou jy nog wou sien in ‘n wyk- of koshuishoof?

Wat moet jy doen om jou werk goed te doen?  En hoe kan jy dit meet?

En hoe weet jy of studentesukses(se) die hoof se toedoen is, of bloot die studente se eie harde werk?

* * *

Inwonende hoofde, hetsy van skoolkoshuise, kollege- of universiteitskoshuise, is meestal sekondêre aanstellings wat gemaak word, met vae-gedefiniëerde toesighoudende pligte.  ‘n Stel pligte bo-op jou normale werk – for love and charity.

* **

Maar vir transformasie om op studentevlak bestuur te word, en om studente aktief te begelei, dink ek, raak dit ‘n voltydse pos – wat dalk selfs onontbeerlik is.

Hoe kritiseer jy konstruktief op skrif, sonder om te ontstig?

Standaard

Sodra ek ‘n inskrywing maak, herlees ek dit vir tikfoute en lomp sinne, en probeer kyk of ek die punt wat ek wil maak/probleem wat ek skets, in ‘n ligte, gemoedeliker trant kan oordra.

Maar dis moeilik om te peil hoe die leser dít wat ek skryf, léés.

(Neem byvoorbeeld die woord “gemoedeliker” hierbo.  Dit laat klink my waarskynlik arrogant en hoogdrawend.)

* * *

Ook skryf ek as oud-onderwyser.  Ek weet dit is belangrik om eksplisiet na te dink oor wat jy implisiet leer.  Oftewel, om te wonder oor wat jy uit sekere ervarings (alledaags, of buitengewoon) leer. Kortweg, om te reflekteer oor dit wat jy doen.

* * *

Só het ek vanjaar nogals heelwat inskrywings gemaak oor studenteleierskap, enersyds omdat dit ‘n belangstelling van my is – en ‘n groot deel van my studentejare opgeneem het – en andersyds omdat ek tans as inwonende/besoekende hoof studente soms begelei.  Ek bedink dié dinge (juis omdat ek nie altyd die antwoorde het nie).

* * *

Wanneer ek oor studenteleierskap skryf, is die doel drieledig: eerstens vir myself en my tydgenote om daaroor na te dink en te wonder, tweedens vir moontlike toekomstige bespreking en gebruik deur huidige of toekomstige studenteleiers, en derdens sodat die gesprek wyer as bloot die anekdotiese kan kring en meer menings kan uitlok.

Daarom probeer ek interessante, meestal ware, soms verdraaide, maar meestal outentieke (rêrige) verhale en gebeurtenisse oproep.  Want stories dra met dit ‘n tema en anker ‘n abstrakte konsep in die werklikheid, voel ek.

* * *

Wát ek skryf, maak egter dikwels van die studente (tereg) kwaad.  Wat privaat is, word (dikwels sonder hulle aanvanklike medewete) publiek.  ‘n Gesprek op trappe word ‘n gesprek op die internet.

En, selfs al kan hulle kommentaar lewer op my inskrywings, bly die magsverhouding steeds ongelyk… en word ek dus in hulle oë ‘n tiran wat op studente-onkunde teer.

* * *

Dalk moet ek in die vervolg hierdie alledaagse staaltjies, eerder op ys plaas vir ‘n jaar of drie totdat al die karakters werklik anoniem geword het, en die kritiek minder snydend is?

* * *

Nietemin, vir almal wie ek ontstig, vra ek om verskoning – en ek vra julle raad.  Want die bedoeling is nie om ‘n eensydige, afgeronde “waarheid” te post nie. Ek is oop vir kommentaar. Moenie net kwaad wees vir my nie, reageer op dit wat geskryf staan en tree in gesprek – as my gelyke.

Op die trappe by ’n studente-saamtrek verskree ek toe die arme verenigingsvoorsitter in ‘n poging om totsiens te sê en ‘n belaglike taaldebat in die kiem te smoor

Standaard

Ek was eergister kortstondig by ‘n studentekonferensie waarna kampusleiers van die Wes-Kaap universiteite genooi is.  (Met “kortstondig” bedoel ek eintlik “korter-as-‘n-stonde” (‘n uur), seinde ek net sowat 25 minute daar was.)

In beginsel is sulke bymekaarkom-geleenthede vir my goed en dink ek heimlik terug aan die dae toe ons ‘n Wes-Kaapse studenteleierskapstruktuur (WC_InterimWrkngGrp_report) op die been probeer bring het.  Dis vir my goed dat studenteleiers forums bywoon en hulle verwysingsraamwerke verbreed.

* * *

Teen teetyd groet ek, maar word buite by die trappe per ongeluk vasgetrek in ‘n kortstondige gesprek met ‘n kampusverenigingvoorsitter wat Afrikaans wil beskerm en tolkdienste instel soos op Potch.

(Hy verwys na “Potch” asof dit ‘n universiteit op sy eie is, nie slegs een kampus van die Noordwes Universiteit nie.)

Ek sê vir hom hy is laf, besluite oor taal is ‘n akademiese kwessie, sy vereniging maak ‘n emosionele versugting daarvan en streef ‘n behoudende, Orania-gesinde Afrikanerbastion na. Ek is grappenderwys kortaf, want ek is op pad. Maar ek wil darem ook nie niks sê nie, wat op ‘n kampus moet ‘n mens krities wees en studente konfronteer met teenoorgestelde opinies, glo ek.

Maar hy stry opreg; probeer hulle missie en visie opsê en my verseker hulle leuse (Transformasie in Afrikaans) is méér as bloot ‘n dekmantel.

Ek sug, verdwaas dat hy my inlok in ‘n spel van skyndebat.  Hy moet eerder by die Berg- en Toerklub aansluit, sê ek.  Of by Eko-maties wat TEDx-konferensies reël.  Hy kan sy jonkmensweesgees en -drif elders beter aanwend tot doele wat meer sin het, meen ek.

Sy lapelwapens blink op sy baadjie, noulettend vasgespeld; nee, maan hy, sy vereniging is belangrik.

Afrikaans, voer ek aan, word mos uitgebou deur soms in klaskamers ook van Engels gebruik te maak, dit word nie deur Engels verdring nie.  Die Universiteit sê onomwonde dat hy Afrikaans bevorder as onderrig- en wetenskapstaal – nêrens sê hy iets anders nie.  Afrikaans in ‘n meertalige konteks.  Wat meer wil hulle hê?

Tolkdienste.

Ga! Wil jy nou nét in Afrikaans klasgee, met oorfone op die kop en tolkers wat honderde voorgraadse modules intyds vertaal?  Waar kry jy genoeg vakkennis-spesialiste wat oombliklik kan tolk? En hoe lei jy ‘n dinamiese klasgesprek in so ‘n opset? Moet ‘n dosent nie juis sy Afrikaanse studente ook blootstel aan die internasionale vaktaaldiskoers en -jargon nie?  Nee, gmpf, dis blote politiekery, groet ek.

Minderheidstaalregte hou hy vol.

Deur ‘n vereniging te run wat kasteelbesoeke aflê, agteraf konkel met konvokasie-raadslede en ‘n konstante kibbelary op raadsvlak aanmoedig? Dis counter-revolutionary, comrade.  Die vraag is nie óf universiteite Afrikaans moet bevorder nie, die vraag is hóé.  Deur die universiteitsbestuur verdag te maak, wen jy niks!

En met dit is ek toe eindelik daar weg, sonder ‘n koffie- of tee-opsie.

* * *

Ná die tyd berispe my kollega my.  Hoe kon ek dié student só verskree het.

Ek pleit onskuldig – miskien het ek ten tye effe hard gepraat, maar ek het hom nie verskree nie.  Met wisselende stemtoon het ek die belaglikheid van die saak beklemtoon. Ons was besig met ‘n skyndebat: die reëls is eenvoudig, ons neem mekaar nie ernstig op nie, want ons weet ons opinies verskil.  So, ons swaai ons sinne soos swaarde, skermend.

Nee, selfs ‘n kring omstanders het meegeluister, tugtig hy.

Wat my laat wonder oor die nut van dié spektakelspel.  Het die voorsitter later die skermutseling oordink?  Het hy die spel weer deurgespeel in sy kop en ‘n snydende retort gekry op my woeste veralgemenings? Wat het die spektators hiervan gemaak?

* * *

Maar as ek die voorsitter net beleefd gegroet het, hand geskud het, kamma-geïnteresseerd geluister het hoe hy homself as studenteleier beskou, opinieloos my kop geknik het en beleefd myself verskoon het, dán sou dit, voel ek, wesenlik “verkeerd” gewees het.

Hierdie was ‘n teachable moment probeer ek my kollega verduidelik, maar hom oortuig ek nie maklik nie.

* * *

Let wel: Hierdie is my eie weergawe van gebeure twee dae gelede. Ek skryf dit in ‘n ligte trant en het geen slegte gevoelens jeens die betrokke vereniging of -voorsitter nie.  Uiteraard het ons gesprek nie presies so verloop nie, ook nie my gesprek met my kollega daarná nie.  Hierdie is bloot ‘n anekdotiese vertelling wat ek juis neerskryf, omdat ek onseker is of my bravade sinvol was of nie.  Ek is só gewoond daaraan om volstoom op windmeule af te storm, dat ek nie altyd oplet dat dit nie soseer drake is nie.

Die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans

Standaard

In die tyd van Jesus se gelykenisse was daar niemand wat dié vraag wou vra nie, want dit het nie swaar genoeg op enigiemand se gemoed gelê nie.

Maar in die meer onlangse geskiedenis was daar ‘n belese man – jy sou hom ‘n skrifgeleerde kon noem – wat wel hierdie vraag wou stel.  Hy raak toe stil en vra in gebed: “Jesus, mag twee mans saam ‘n kind grootmaak?”

Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

Die skrifgeleerde antwoord: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. Dit is ‘n afstootlike sonde.”

Toe antwoord Jesus hom: “Mens, het jy niks uit my gelykenisse geleer nie? Hoe is dit dat jy kyk, maar nie sien nie, en hoor maar nie luister of verstaan nie?”

* * *

Toe vertel Hy hom die apokriewe gelykenis van twee liefdevolle mans:

“Daar was twee mans wat baie lief was vir mekaar. Hulle het trou aan mekaar gesweer en gelukkig saam gewoon en die rykdom wat hulle vergader het, met hulle naastes gedeel.

“Op ‘n dag kom hulle twee weeskinders teë. Hulle neem hulle in en versorg en klee hulle, en maak hulle groot soos hulle eie.

“Omdat hulle al baie nagedink het oor die liefde, en geweet het dat daar mense is wat hulle haat vir die liefde wat hulle met mekaar deel, het hulle versigtig, maar openlik oor die liefde met hulle kinders gepraat.

“Hulle het die kinders vermaan om nie te veroordeel nie, maar om die rykheid van God se liefde aan almal toe te wens.”

* * *

Die skrifgeleerde was verbaas oor die antwoord wat hy ontvang en het weer stil geword om die tweede deel van die gelykenis verder aan te hoor.

* * *

“In dieselfde streek het daar ‘n man en vrou gewoon wat op ‘n jong ouderdom trou aan mekaar gesweer het, en in die eerste jare van hulle huwelik het die vrou vir haar man twee kinders in die wêreld gebring.

“Soos die kinders ouer geword het, het die man na sy vrou gekyk en haar as die moeder van sy kinders begin sien. Die liefde wat hy vir haar gevoel het, het begin taan, maar in die gees van die Wet het hulle met die huwelik volhard.

“In die streek was daar heelwat egskeidings en ongehude ouers en egbreuk wat deur mense gepleeg is, maar die man en vrou het aan mekaar trou gebly, en die kinders sonder sulke sonde opgevoed.  Maar die twee kinders het ook sonder ‘n liefderyke voorbeeld grootgeword, omdat die man en vrou se liefde vir mekaar stil geword het.

“So het die kinders stilweg besef dat die huwelik eintlik ‘n plig is wat nagekom word. Hulle het na hulle maats se ouers gekyk en gesien dat hulle nie die pligte van die huwelik nakom nie.  Hulle het trots gevoel op hulle ouers se nakoming van die Wet en het aan ander uitgewys hoe sondig hulle ouers is.”

* * *

Die skrifgeleerde het sy oë oopgemaak en hartseer gevoel vir die man en vrou se kinders.

Toe vra ‘n stem in sy gemoed: “In die oë van die Here, wie het hulle kinders die mees liefdevol grootgemaak?”