Tag Archives: waansin

Van blougat tot ouman: hoe die Bosoorlog steeds woed in 2011

Standaard

‘n Skrywersvriend het onlangs sy manuskrip vir my gegee om te lees. Ek voel bevoorreg. Dit handel oor sy anti-held diensplig-ervaringe tydens die grensoorlog – en die weermag-waansin wat daarmee gepaardgaan. Hy skryf dit met ‘n goeie dosis sinisme en satire wat ek geniet; sy invalshoek herinner my aan Catch-22 se Yossarian (sekerlik een van my gunsteling fiktiewe karakters) se tong-in-die-kies waarnemings.

>>

Tot op hede weet ek min van die grensoorlog; diensplig is afgeskaf toe ek nog in die laerskool was, en ek het nooit kadette geoefen in die hoërskool nie. Ja, vaagweg weet ek van Boetman wat die bliksem in was, maar dit is ‘n oppervlakkige besef, nie ‘n geïnvesteerde verstaan nie.

So toe ek sy manuskrip beginne lees, het ‘n nuwe (ou) wêreld vir my oopgegaan, honderde kilometers bo in die lug teen honderde kilometers per uur, rustig met ‘n glasie whisky op ys, ver verwyderd van die werklikheid (op ‘n vlug).

>>

Wat vir my jammer was, is dat ek baie van die mees bisarre, komieklike insidente op ‘n eienaardige wyse herken het. Die tweede-laagste rang wat hulle beperkte gesag op die laagste rang (die troepe) uithaal met fisiese oefeninge, sielkundige aftakeling, konstante afkyk, staan in die son, kort storte, hare afskeer en ‘n ewige paradeer sonder enige verweer. Dié aspekte is almal steeds opgesluit, oorgedra en ingebed in koshuistradisies van jare later.

Dit skaam my om te sê, maar drie dekades ná die oorlog woed aspekte daarvan steeds wild op die Bos. Met die beste bedoeling, besef ek, maar sonder begrip; sonder verstand.

>>

Op die lughawe, in die boekwinkel, vang my oog ander memoires wat op die rakke staan. “Troepie: van blougat tot bosoupa” is een se titel. Dit verklaar hoekom ‘n standbeeld op die kampus se sitvlak jaar-op-jaar blou geverf word, deur eerstejaars wat hulleself “blougatte” noem.

Ek google “blougatte” en kom op ‘n facebook groep af met trotse foto’s van 2009 se eerstejaarsgroep/troep; duidelik is dit nie net die standbeeld wat deurloop nie:

Ook sien ek ‘n Hoër Tegniese Skool se graadags word lieftallig “blougatte” genoem; die webwerf lys jukskei as een van hulle skoolsporte.

Tydens die oriëntering hang blou naambordjies om hulle nekke; aan die einde van die oriëntering sing hulle hand-op-die-bors hulle skoollied. Hier spring hulle vreugdevol in die lug:

>>

Die grensoorlog was vanaf 1966 tot 1989, maar ek vermoed dit impakteer tot vandag toe veral Afrikaanse skole en universiteite. Wat behoue gebly het, is die meem dat aftakeling van nuwelinge nodig is, of jy nou aankom in graad 8 of as eerstejaar – jy moet ‘n bietjie suffer om waarlik “man”/mens te word.

>>

Solank as wat skool- en koshuishoofde in hierdie georkestreerde boelie-gedrag glo, en dit as ‘n waarde ag, bly die tradisies en praktyke voortleef as ‘n onbedenkte spel – wat vir die meeste individue as ‘n hegte groep saambind, maar vir party hoër-op individue vrye teuels gee om sadisties en gemeen te wees, vir die pret.

>>

Trauma en waansin ná die moord

Standaard

Eergisteroggend het sy naakte lyk in die water gedobber.  Popeye the sailor man.

In troebel water.  Sy oë oopgebal.

My skuld.

* * *

Ek sou hom wou onthou as my goeie vriend – maar mag ek hom dit noem?  Eerder my vermoorde vriend?  En ek sy moordenaarsvriend?  Kring die rimpeling van vriendskap verder as die walle van die Styx waar hy stip met sy walglike uitpeuloë dood uit sy watergraf staar?

Sal hy my onthou vir die 47 dae van vriendskap?  My goedsmoedelike groet elke oggend; elke aand?  Of sal sy gees onrustig voortswem in daai laaste nagmaalkolk van gebreekte brood?

Die een se brood.

Viskos.

* * *

Ek sou kon sê my hand het geglip.

Maar daar was beslis tyd tussen die daad en die dood.

Ek kon die skrapnel van my stupidity uitvis as ek wou.

Maar ek het nie.

 * * *

Eergisteroggend het ek sy bleekswart oorskot met my hande uitgelig. Sy maag was uitgeswel.  Sy lyf teer soos ‘n ooglid, sag soos murg.

En toe het ek hom onserimoniëel by die toiletbak afgeflush.

Dood ná ‘n oordosis.

* * *

Ter nagedagtenis aan Popeye en Goldilocks

29 Augustus – 14 Oktober 2009

Hulle laat ‘n leë visbak na en sewentien blink scratchpatch klippies.

Aspris #4 – sinloos vs sinneloos

Standaard

“sinloos” = sonder sin/betekenis.  “sinneloos” = sonder jou sinne/denke.

D.w.s. “sinlose bestaan” = ‘n bestaan sonder betekenis; ‘n doellose bestaan vs. “sinnelose bestaan” = ‘n bestaan sonder denke; ‘n waansinnige bestaan.

In alledaagse gepratery verwar ons soms dié twee woorde/begrippe met mekaar.  Ons sal praat van ‘n “sinnelose gesprek” wanneer ons eintlik ‘n “sinlose gesprek” bedoel.  In werklikheid sal ons dus sê iets was mallerig terwyl ons eintlik bedoel iets was nutteloos.

Sin sonder sinne? 

Vantevore (pre-postmodernisme) het mense aangevoer dat daar “sin” in die lewe is – ‘n universele doel vir mense se bestaan oftewel sin wat aan ons wese-wees gekoppel kan word. 

Deesdae (post-postmodernisme) is daar meer die geneigdheid om ‘n universele “sin” of doel te negeer (te verwerp), maar wel te sê dat elke mens ‘n eie, unieke doel/sin vir sy lewe moet skep.  Volgens ‘n postmodernistiese beskouing (en help my asseblief reg as ek dit te losweg interpreteer) is “sin” ‘n persoonlike konstruk – iets wat sin en waarde aan een mens se bestaan verleen, kan dus nie gecopy en paste word tot ‘n ander individu s’n nie.

(Altemit, dis wat fundamentele kerke met hulle onderskeie dogmas probeer doen?)

In die afwesigheid van ‘n samebindende godsdiens/geloof kan daar egter met moeite na ‘n sinvolle lewe verwys word soos in die ou dae…

D.w.s. die lewe is by verstek sinloos.  Dis ons (lewens)taak om sin tot die lewe te voeg. 

Hm.  Is die verlies aan ‘n duidelike doel nie hartseer nie?  (Al was dit arrogant om dit te wou hê?)

So my vrae vandag is: Is dit sinnevol om sin te soek?  Of is dit geheel en al sinneloos?  Is dit sinvol om jou sinne te gebruik om sin te skep?