Monthly Archives: April 2011

Ek het gister myself soos ’n goeie kapitalis probeer vergoed

Standaard

Ek het gister myself soos ‘n goeie kapitalis probeer vergoed en met ‘n bankkaart in ‘n beursie na ‘n winkelsentrum geepad.

Om iets te koop.

Iets onnodigs, oorbodigs, suiwer vir die plesier van iets duur aanskaf; om my maandelikse salaris as vergoeding in te span: myself te vergoed, my lewe te verbeter, my met die rykhede van die aardse wêreld te vermaak, because you’re worth it, sê die een of ander grimmige advertensie.

So sit ek my beste gesig op, my beste voetjie voor, en loop in ‘n klerewinkel waar daar genoeg genaaide lappe hang om ‘n klein nasie te klee.

Ek wandel tussen hangers; haak ‘n paar nader om my swaargelaaide arm, gaan aantrekhokkies toe met die maksimum getal items. Trek toe die gordyn. Verklee in drie weerkaatsings van myself. Gee die oranje nommer terug, hang die items op, herhaal die proses.

Vir ‘n wyle huiwer ek met ‘n leerbaadjie, afgemerk: donkerbruin pas by my bleek vel en ligte hare. Maar dan besef ek meteens ek sal ‘n motorfiets ook moet koop vir dié look, en hang toe maar daardie gedagte ook op. En voel verlig.

Verlaat die klerewinkel.

In my ‘n meubelwinkel.

Sit op stoele.

>>

Uiteindelik eindig ek in kruideniersware winkel. In ‘n supermark soos wat daar oral is.

En met kontant koop ek ‘n saadbrood en ‘n afgemerkte Emmentaler-kaas met switserse gate. Rooibostee en no-name bessiesap. Koningskos, dié spys en drank.

>>

Buite die katedraal van Kapitalisme, gooi ek kollekte in ‘n karwag se hand.

Sug soos ek by my stofblou karretjie, warm gebak in die son, inklim. Waarlik, ek’t brood in die sweet van my aanskyn verdien, dink ek. Soos ‘n goeie Calvinis.

>>

Die moskee se plafon is hoog as jy kaalvoet op die mat sit

Standaard

Die moskee se plafon is hoog as jy op die mat sit: ‘n dik, blou tapyt. Gewyd.

So sit ons, al die mans – ook die imam wat die troue lei. Ek loer soms vir hom deur koppe wat knik.

Die kinders is min getraak, loop stil rond en lag; die ouer seuns sit en kniel op die mat, effens lusteloos. Die tieners en jong ouens sit met hulle handpalms oop as die videokamera hulle kant toe swaai, maar tel dan weer hulle selfone in dieselfde afkykende posisie, met oop hande op.

Van die ouer mans sit op ‘n eenvoudige bank; beter vir die rug.

Die bruid is bo by die balkon en hou die nikkah (haar troue) dop, saam met haar susters en my vriendin. Blykbaar is dit ongewoon dat hulle enigsins teenwoordig is, maar die imam moedig dit aan; dit is goed. Ons sien hulle nie.

>>

Passasies uit die Qur’an word in ‘n sangstem voorgedra. Die Arabies hul die seremonie in mistiek.

Ek hou my hande opwaarts oop; ek vermoed die seën word uitgespreek, en ek volg dit op met ‘n inasemende handevryf oor my gesig. Voel asof ek die heil inadem.

>>

Ná die seremonie, later in ‘n skoolsaal, is vele tafels gedek. Sonder pretensie. Die hele gemeenskap is genooi: neefs, niggies, ooms, tannies, bure, familievriende. Die kinders hardloop los rond en speel met mekaar tussen die geregte deur. Soet en sout voorhappies is reeds op die tafel, saam met trosse druiwe.

Die geregte word deur tiener-neefs en -niggies bedien.

Tydens die onthaal, breuk die mans vir ‘n wyle weg. Hulle bid met hulle volle liggame: eers met hulle hande oop, tikkend teen die ore, dan om die lyf gevou. Arabiese dreunsange word herhaal; dan word daar gebuk, dan gekniel, dan weer opgestaan, en die proses herhaal.

Die vroue klets rustig voort. Geslagsrolle in die gemeenskap duidelik uitgestip.

Eindelik is die gebede klaar; die mans trek hulle skoene aan, tel die lappe van die grond af op.

>>

Ons eet met vurk en hand; vat-vat die rys en vleis saam en proe met vingers in die mond. Drink water en sap; vonkel-druiwesap met die tweede gereg. Dit is salig sonder wyn.

>>

Teen 20:30 is die onthaal klaar; vroeg genoeg vir jong kinders om te gaan slaap. Die vader van die bruid sê ‘n sangrym op terwyl sy saam met haar skoonfamilie se vroue uit die skoolsaal stap. Haar susters huil neffens hul ma, langs hul pa wat in Arabies sing.

>>

Saterdag was ‘n heilige dag.

En ‘n troue is volbring.

My kantoor was gisteraand ’n baken van lig in die maanlose nag …vir motte

Standaard

My kantoor was gisteraand ‘n ligtoring in die diepdonker nag vir die motte wat kerplaks-kaplaks teen die ruite vasgevlieg het, koppig, keer-op-keer opwaarts tot waar hulle uiteindelig deur dun skrefies lug kon inwring na die beloofde lamp.

My kantoor met blindings wat blindelings ratel in die ligte bries het oornag in ‘n krematorium ontaand.

>>

Ten spyte daarvan, aanvanklik onbewus, sit ek oorgebuk intens my kop en kantel vrylik terwyl ek stiptelik, herhaaldelik, onverbiddelik deur artikels en hoofstukke flap, ewig soekend na ‘n verligte kruisverwysing wat by my woorde sal pas.

‘n Artikel ingebed in ander. Kennis is lig.

>>

Waarlik, die motte se simposium lewer ‘n dawerende applous van vlerke wat klap, vol weerga vir die brommende buisligte se heldere insig.

>>

(Later kom die onthou van hoe delikaat ‘n mot se vlerk werklik is.)