Ek het op die regte dag teruggevlieg vanaf Londen: op Vrydag 17 Desember. Die vliegtuig waarop ek was, is slegs twee ure vertraag op ‘n lughawe wat oorval is met kansellasies a.g.v. die vroeë wintersneeu oral in Europa.
Saterdag laatoggend het ek, wat maar ‘n trae reisiger is, soos beplan in Kaapstad geland.
(My vriend, op wie se gemaklike rusbank ek vir vyf nagte rondgerol het, het eers vanoggend in Johannesburg neergestryk ná sy vlug die volgende dag, etlike kere uitgestel is.)
* * *
Dit was ‘n interessante trippie – ‘n geleentheid wat my effens onbehoeds betrap het ná ‘n navorsingsartikel waaroor ek aanvanklik skepties was, aanvaar is vir ‘n konferensie oor Hoër Onderwyssake.
As deel van my persoonlike personeelontwikkeling is ek aangemoedig om drie universiteite in Oxford en Edinburgh te besoek, en het ek dus ‘n groot deel van die Verenigde Koninkryk gesien, oftewel die “airstrip no.1” of die “small island next to Europe” wat al is wat oorgebly het van die eens magtigste imperialistiese wêreldryk.
Daar is ‘n konstante historiese bewussyn in dié land wat gebou is op die rommel van die Romeine, met lae van geskiedenis wat teruggedelf kan word as jy grawe vir treintonnels onder riviere.
Daar is ook ‘n Londen en “die res van die Engeland” sentiment, waar die kosmopolitaanse stad eintlik ‘n onwaarskynlike entiteit op sy eie is, heel anderste as die platteland en buitewyk-dorpies.
* * *
‘n Trae toeris is ek, omdat ek wegskram van reisreëlings, min hou van vroeg opstaan en ‘n renons het in touristy shops wat kitch goedjietjies verkoop wat jy móét koop omdat dit ál is wat jy kan bekostig vir die mense terug by die huis.
Ek sleep my voete in die museums en pas skaars twee besoeke in op ‘n dag voor die son klokslag 16:00 sak.
En ek mis my mense, bekende klanke op die oor en vriendelike gesigte.
* * *
Ek is vanaf drie komplekse lande terug na hierdie ene aan die suidpunt van ‘n heel ander kontinent. Tog is ons geskiedenisse verweef, en deel ons ‘n common wealth: ‘n gesamentlike bewussyn van dít wat was – én dit wat nooit was nie: verweefde fiksies, verhale en legendes, metafore en ellendes, van Skotse unicorns en Walliese drake tot Harry Potter se Diagon-strate – ‘n psigiese naelstring wat ons oor die eeue en die afstand heen, bind – tog, geknip.