Tag Archives: pannekoek

Pietertjie volstoom pannekoek toe!

Standaard

Tannie Martha en oom Javel is getroue OOV-ouers van die Laerskool Kleinkammieskloof; seker omdat hulle huis reg oorkant die skoolhek is én hulle so baie kinders (vier seuns) vir dié skool, met sy trotse rugbyspannetjies, opgelewer het.

So moet tannie Martha pannekoek bak langs die atletiekveld vir die laerskool se kleuresport, juis op die tydstip dat haar jongste, Pietertjie (blouspan), sy eerste wedloop in graad 1 moet hardloop.  (Pa Javel staan duskant met sy kamera, reg by die eindstreep; hy het al vir Pieterman gesien hol; hy hardloop glad vir Diederik (ouer boetie) weg.)

Die jong atletiekkindertjies word opgelyn, en Oom Javel miss call sy vrou sodat sy moet opkyk van haar stalletjie af – die wegspring gaan begin.

“Op julle merke…  Gereed…”

So moet die pannekoekkopers maar wag, want tannie Martha hou die afsetter dop.  En toe die geweerskoot klap, gil mamma Martha en swaai die pannekoekpan soos Pietertjie hol.

Pietertjie doen sy genetiese afkoms gestand (al die boeties het lang bene) en trek vinnig weg.  By die draai is Pietertjie  loshande voor, met ‘n trop kindertjies op ‘n bondel agterna wat dit uitspook om tweede plek.

“Hol, Pietertjieeee, hol!  Hardloooooop!” jil mamma Martha.

Maar die son blink so op dié pannekoekpan, en sy ma skree so hard, dat Pietertjie skoon die draai in die atletiekbaan mis en reguit na mamma toe voorthardloop.  Pa Javel swaai sy arms verwoed by die eindstreep, maar tevergeefs.  Daar skiet Pietertjie, met intense konsentrasie en volwang asemhaling, pylreguit op Mamma af!  …én die hele kaboedel mede-wedlopers volg hom kiertsreguit agterna!

* * *

Die volgende jaar is tannie Martha gevra om eerder by die koeldrankstalletjie – duskant die eindstreep – diens te doen.