Daily Archives: Januarie 3, 2011

Sy glimlag en skeur die geriffelde kartonpapier tussen my paspoort en duim

Standaard

As onwillige toeris reis ek toe eindelik terug, heel verlig.

Dit was helder oornag in die terminaalportaal waar ek my vlugnommer opwaarts volg. Tot die opstygpoort op die skerm beginne flits het. Gate 51

Vaarwel.

Die geharwar se aksente en klanke doof ek met ’n ligte geneurie uit, onhoorbaar vir ander, vermoed ek, waar ek die sleeptas trek… van vervoerband tot vervoerband… tot waar die vliegtuig land… Chariots of fire neurie ek gelate…

…tot poort 51 waar ongedurige families alreeds sit en wag. Sommiges tree aan in ’n ry vanaf die toonbank. Traag.

Die seun voor my verkyk hom aan ’n kleuter wat wankelrig draf met groot oë en ’n oop mond met min melktande. ’n Ma kort agterna. Ons wag.

Die woord verbrokkel kom by my op en ek raap nog lettergrepe bymekaar:

Ver-brok-kel-end is jy

Op ’n on-der-grond-se sta-sie

Oor die aar-de heen ver-sprei

Ons-e di-a-spo-ra na-sie

(Miskien moet ek ’n oversized pet kry; goue kettings om my nek.)

My mede-reisigers sit staties en blaai deur tydskrifte, woordeloos. Verfoeid, dink ek. En wonder hoeveel slegs terugkeer vir die warmer vakansietyd.

Jy vier ’n white kris-mis

En vra dan om ver-gif-nis

Maar hier don-ner ons jou dis-nis

Met die Hei-del-berg-se Ka-te-gis-mus 

∙ ~ ∙

Brey-ten-bach eet slak-ke

en Brink kry nog ‘n vrou

S-A raak net swak-ker

Want jy is só on-trou 

’n Gereguleerde aankondiging herhaal goeder trou: tasse tot niet as jy dit vergiet (vrye vertaling).

En dan ’n gerigte boodskap net vir ons: eers die eersteklas, dan krenkelinge en dan die res (vrye vertaling), gesegmenteer volgens sitpleknommers; die oueres en goedgekledes staan op; beweeg vorentoe. Die meerderheid bly wag.

Ek kort net ’n rymende koeplet vir ’n gesofistikeerde Shakespeareaanse sonnet, druipend van psuedo-patriotisme.

Gaan braai iewers anders of hou op kla

Of vlieg in jou moer in op S-A-A

Die seun stap-stoot sy rugsak met sy voet teen die grond. Die ma gryp na haar kind om die lyf. En die tou tshosholoza stadig vorentoe…

…tot by ’n vrou in ’n blousnyerspak.

Sy glimlag en skeur die geriffelde kartonpapier tussen my paspoort en duim. 79G. Ingeskandeer en geverifiëer, dink ek. So te sê gearriveer.

Ons voetstappe galm teen die helling af. En die lug word vars en ons wange koud. Ek druk my sleeptas se trekstang solank in, en tel dit op – meteens ’n bewuste gewig in my hand.

Ek wou nog my baadjiesak ooprits om my geleende mus uit te haal en op te sit, toe die vorentoe-beweging skielik spoed optel. ’n Lugwaardin met ’n landsvlagserp veelkleurig geknoop om haar nek, nooi my aanboord met die intrapslag. Ons vir jou SAA.

Beleef volg ek haar instruksie na die aisle seat. Deur die loopgang beur ek en stap, skuur verby, en wag en stap voort, 47, 58, 63, 66, 70, 74, 77, 78, verby die badkamerseksie, 79G.

Ek lig die sleeptas swaar bo my kop, skuifel dit in, geepad na my aangewese sitplek, trek my jas en serp lomp uit (sonder om die persoon langs my wat dieselfde doen, te stamp), tree weer vorentoe en stop dit bo, langs die bagasie in, vinnig, om niemand se stoelsoek-staptog te ontwrig nie.

En toe draai ek om. Uitgeput.

Tel die kussing, kombers en oorfone van die stoel af op.

Knik my kop vir die persoon langsaan my.

En gaan sit.

>>

Daar is ’n oomblik in elke sit wat heilig is.

Waar jou kop sag in jou skouers sak, jou bene tydelik verlos van jou logge lyf, waar jy gelate uitasem, stadig deur neus en mond. Met oë toe. Salig soos in ’n kruietuin.

>>

Toe wag ons nog ’n uur sodat hulle die ys van die vlerke kon skraap.

Maar op pad huis toe was ek gewis.

Op vlug.

>>