Daily Archives: Januarie 19, 2011

Jou eerste dag op universiteit: nou wat nou?

Standaard

So, vandag val vele studente hierdie kampus binne.

Wat kan julle verwag?  Hoe moet jy die eerste paar weke benader?  Hoe verskil ‘n universiteit van skool?

Welkom

As nuweling-eerstejaarstudent is dit moeilik om te weet wat om te verwag.  Jy kom na ‘n kampus veel groter as jou skool, waar jy vir lektore, anders as vir onderwysers, soms werklik bloot ‘n nommer is.

Jy kom na ‘n warm dorp met temperamentele weer.  Waar jy nogals veral in dié tyd soms regtig kan sweet.

  • Drink baie water
  • Smeer sonbrandroom gereeld aan
  • Bring gemaklike skoene – en genoeg sokkies
  • En let op: die skril klank wat jy hoor, is dié van sonbesies in die bome

>>

‘n Verwelkomingspan met ‘n plan

Jou eerste “hallo” is waarskynlik vanaf lede van ‘n privaatwyk of koshuis se huiskomitee (HK) – ‘n groep wat deur hulle medestudente in Augustus laasjaar tot leiersposisies verkies is.  Ook is daar mentors, senior studente wat aangestel is om jou by te staan met vrae oor jou studies.

Die HK en mentors gaan  jou die kampus wys, begelei tot by al die regte registrasielokale (waar jy soms in lang toue gaan wag) en probeer om jou te laat tuis voel tussen ‘n klomp mede-eerstejaars en ander vreemdelinge.

  • Wees bedagsaam
  • Neem deel
  • Let op wat die koshuis/wyk se waardes en etos is
  • Wees oopkop en gewillig, maar moenie als vir soetkoek opeet nie
  • Luister en moenie konstant vrae vra nie; die HK en mentors sal waarskynlik nog by die antwoord kom

Die verwagting by seniorstudente is dat jy ná die verwelkomingstydperk ‘n sin van kameraderie en lojaliteit met jou mede-eerstejaars en HK sal hê, en toekomstige funksies en bymekaarkom-geleenthede sal ondersteun.  Kortom, hulle hoop jy hou van die plek en sy mense.

Mede-nuwelinge

Maak vriende met die nuwelinge om jou.  In die eerste week het jy briljante kanse, met die huiskomitee wat waarskynlik hope “skakelings” en “ken-mekaar” sessies gaan reël.

  • Wees oop vir nuwe vriendskappe, juis met mense vir wie jy nouliks ken
  • Hou gerus ‘n notaboekie byderhand, vir name en adresse, kontaknommers en sulke dinge
  • Glimlag, groet, borsel jou tande, rol sweetweerders aan en wees ordentlik
  • Dink aan interessante vrae, bly weg van uitvra oor matriekpunte of vakrigtings; luister, en wees geïnteresseerd
  • Gebruik jou ketel, maak koffie, nooi mense.
  • Moenie probeer om onmiddellik jou droomman of -vrou te ontmoet en met soet woorde te vlei nie

>>

Respek, sonder gesag

Die verwagting vanaf universiteite se kant af, is dat die studenteleiers geensins optree soos boelies nie.  Immers, as mense jou volg slegs omdat jy hulle dreig, is jy nie juis ‘n leier nie.

Tog is dit ‘n strik waarin baie HK-lede trap.  Hulle dink jy moet as leier die baas wees, soos ‘n skoolhoof wat op kinders skree.  Daarom sal hulle dalk ‘n persona aanneem, ‘n skyn-self wat kamstig ouer is (soms groei mans baarde, of vroue HK-lede maak asof hulle alreeds verloof is), en wat moerig is, soos ‘n kwaai ouer wat op ‘n kind skree.

  • Pasop vir HK-lede wat die pot mis sit.  As daar op jou geskree word, mis hulle die punt
  • Nietemin, wees hulle, in soverre hulle nie te veel kwaad doen nie, maar genadig.  Besef dis ‘n skynbeeld wat hulle tydelik voorhou; hulle sal julle niks maak nie
  • Rapporteer wel jou HK se gedrag aan jou koshuis/wyk se monitor en/of die inwonende hoof.  Hulle aanbevelings word in ‘n verslag gepubliseer en help dan die volgende jaar se HK om te verbeter op die foute wat hulle maak
  • Alhoewel hulle benadering dalk verkeerd is, is hulle einddoel wel positief: hulle wil julle saambind as ‘n eenheid wat trots is op die nuwe identiteit wat jy bykry
  • HK-lede wat jou probeer intimideer, doen dit op verskeie subtiele en eksplisiete maniere, hulle speel vreemde musiek (opera of kindermusiek) om julle wakker te maak soggens, hulle laat tree julle aan in rye asof julle in die weermag is, laat julle dalk afkyk grond toe, praat met julle asof julle kinders is, spreek julle minagtend aan, terwyl hulle oordrewe titels vir hulleself toe-eien, hou julle in die duister oor die verwelkomingsprogram wat voorlê, en jaag julle aan van een plek na die ander, soos ‘n trop skape; hou brandalarmoefeninge in die middel van die nag.
  • Steve Biko (‘n SA vryheidsvegter) het gesê: the most potent weapon of the oppressor is the minds of the oppressed.  Bly sterk.

>>

As jy beginne moeg word

Jy kom sopas van ‘n vakansie waar jy ‘n luilekker lewe gehad het.  Die ritme van jou doen en late was als onder jou beheer.  Dalk was jy selfs ‘n jaar oorsee.  Maar nou word jy saam met ‘n gretige groep gevra om ‘n klomp aktiwiteite op uitgewerkte tye van smôrens vroeg tot saans laat te doen.  Jy sal dalk moeg word.  Veral teen dag drie.  Want dis mos maar soms moeilik om aanvanklik op ‘n nuwe plek aan die slaap te raak en, om heeldag besig te wees, eis sy fisieke tol.

  • Eet genoeg.  Jy kort die energie vir rondstap van die een uithoek van die dorp na ‘n ander
  • Gaan slaap so vroeg as wat jy kan
  • As jy vir lang tye regop moet staan, wieg op jou voortone en dan jou hak, om jou bloedsomloop aan te wakker en nie flou te val nie
  • As jy moeg of duiselig voel, gaan sit.  Jy hoef niemand se toestemming te vra nie.

>>

Registrasie en wat jy moet swot

Om te besluit watter rigting om in te studeer, is intimiderend.  Sommiges weet al van jonks af wat hulle wil word, en vir hulle is dit maklik, maar vir die res is dit ‘n amper-onmoontlike besluit met te veel opsies.

  • Sorg dat jy registreer vir die kursus waarvoor jy aansoek gedoen het, en met jou ouers bespreek het
  • In die eerste paar weke van die kwartaal is daar altyd nog tyd om van kursus te verander – vind uit wat die sperdatum daarvoor is en teken dit in jou dagboek aan
  • Elke universiteit het ‘n studentevoorligting- en ontwikkelingsentrum waarby jy kan gaan aanklop vir gratis beroepsvoorligting; gebruik dit en gaan maak ‘n afspraak
  • Woon getrou jou klasse by, en kyk of jy dalk by ‘n ander kursus ook kan gaan inloer tydens een van jou af-periodes, en besluit dan mettertyd
  • Onthou, daar is niks wat jou keer om op 40 weer ‘n ander beroepsrigting in te slaan nie; hierdie is geen kortste-pad-na-sukses speletjie nie; hierdie is ‘n algemene eerste opleiding om jou toe te rus vir verdere studie en beroepsgroei

>>

As die seniors beginne terugkom

As jy dit unlucky getref het, en jou HK probeer julle die heeltyd intimideer, dan sal hulle waarskynlik die illusie skep dat Wanneer Die Seniors Terugkom, Dán… maar die werklikheid is eintlik maar presies soos wat jy dit self kan indink: die “seniors” is maar net jongmense wat die vorige jaar vriende geword het, wat ná ‘n lang vakansie terugkom.  Hulle gaan raas, mekaar gul groet en ‘n lekker tyd hê.

Dit is deel van die ritme van kampuslewe dat daar elke jaar ‘n nuwe toeloop van studente is; dit is dus nie onverwags of uiters vreemd nie.

  • Groet diegene wat deel is van jou omgewing vriendelik
  • Wees oop om jouself voor te stel, en probeer om hulle name te onthou
  • Moenie bang wees nie, en verwag ‘n jolige geraas

Wat die universiteit betref, wil hulle koshuise en wyksareas omskep in demokratiese luister-, leef- en leerruimtes waar studente van alle jaargroepe en nasionaliteite met mekaar kan praat, debatteer en van mekaar kan leer.  Studente kom egter direk van skool, en dáár is daar dikwels sterk onderskeid tussen graad 8’s, seniors en matrieks, met die onderwysers en skoolhoof bo-aan die magshiërargie.  Ons wil nie dit by ‘n universiteit hê nie.

‘n Universiteit is ‘n plek van kennis, waar almal: eerstejaars, M-studente, lektore, professore inkluis, besig is met dieselfde edele doel: om kennis te skep en met mekaar te deel.  Ons is almal volwassenes in die sisteem, en as jy ‘n idee het, moet jy dit, op wetenskaplike wyse, kan voorhou aan ander, ongeag jou ouderdom.

Maar wees bedag dat daar by heelwat mense steeds ‘n versugting na hiërargieë is – veral tweedejaars smag daarna om nie meer juniors te wees nie.  Dus, wees dalk aanvanklik bereid om die mindere te wees, bloot uit respek.  As jy kan opstaan om vir iemand anders sitplek te verleen, bied dit gerus aan.  As jy iemand anders eerste kan laat kolf, of die bal kan gaan soek wat sopas weggemoker is, doen dit, sonder dat hulle jou vra.  So wys jy respek deur jou aksies.

Om ‘n ruimte te deel met ander

By jou ouerhuis was julle net ‘n klein groep mense.  As jy tussen meer persone bly, moet jy probeer bedag wees op hoe jou aksies op ander mense inwerk.

  • Probeer om nie te raas in gange of voorportale waar jou klank kan weergalm nie; gesels en lag eerder in jou kamer agter ‘n toe deur wat die klank absorbeer
  • Leer jou kamermaat en sy/haar gewoontes en behoeftes ken, luister dalk jou musiek met oorfone aan, respekteer sy/haar eiendom en sinchroniseer julle slaap- en opstaantye
  • Maak skoon ná jy ‘n kombuis- of badkamerarea gebruik het, of as jy iets laat val of mors het
  • Vra as jy iemand se koffie, suiker, tee, melk wil gebruik, en deel dan ook jou voorraad gelykmatig
  • Maak jou kamer- en ander deure sag toe, en wees bedag as jy jou meubels rondskuif, want die ouens onder jou kan elke skuifeling hoor

>>

Diegene wie jy agterlaat

Vir meeste skoolverlaters is die universiteitslewe die eerste keer dat hulle wesenlik weg is van hulle ouerhuis, en nie meer hoef te rapporteer wat aangaan in hulle lewens nie.  Nietemin:

  • Verbeel jou hoe jy sou voel as jy ‘n ouer was en skielik niks meer van jou kind hoor nie, ná 18 jaar.  Bel eerder gereeld, SMS, en bly in kontak, al trek die verhouding swaar
  • Koester jou vryheid ook, en wees bedag daarop dat jy nie elke naweek heelnaweek huis toe gaan nie; sien jou ouers die eerste Sondag, dan weer twee naweke daarná, maar probeer om nie elke naweek huis toe te gaan nie; jy moet meer onafhanklik word in dié fase van jou lewe – en ja, selfs sélf jou wasgoed was!
  • Werk aan jou verhouding met jou ouers, en behou ook soveel kontak as moontlik met skoolvriende, deur Facebook, ens.

>>

Verantwoordelike vryhede

Studentelewe is pret, daar is orals mooi, jongmense op kampus, daar is kuierplekke, drank, dagga, partytjies en dalk selfs strande met bikini-vroue en gespierde mans in die omtrek, as jou kampus naby die kus is.

  • Daar’s later tyd vir drink.  Kry eers jou akademiese sake in orde, wees rustig en moenie dadelik hals-oor-kop tekere gaan nie
  • Kuier saam met vriende, maar ook met nuwe mense wie jy nog nie goed ken nie, en ook met mense wat ander belangstellings as jy het
  • Besef jy is 18 en dus wettiglik volwasse en vervolgbaar vir enigiets wat onwettig is.  Om goed te breek, steel, of om onwelvoeglik op te tree, is nie aanvaarbaar bloot omdat jy ‘n student is nie; die mense omliggend tot universiteite is moeg vir gesteelde potplante en vandalisme en sal julle aankla
  • Pasop vir vry in ‘n bondel, en ken jou ABCD’s van seks
  • Ry slegs met mense wat nugter is; dronk studente is berug vir hulle dom bravade, en gevolglik begrawe ons talle belowende studente a.g.v. dronkbestuur-ongelukke

>>

Geniet dit

‘n Universiteit is nie ‘n skool nie.  Daar is nie onderwysers en leerders nie.  Almal is gelyke soekers na kennis, wat vrywillig en aspris hulleself blootstel aan mense wat anderste dink, van ander kulture afkomstig is en in ander dinge glo.  Jy leer hier hoe om te bevraagteken, hoe om krities na dinge te kyk, hoe om stomgeslaan te word deur die magdom van die wetenskap en die ryke verskeidenheid van mense en maniere om na sake te kyk.

‘n Universiteit is ook nie net ‘n plek vir beroepsopleiding nie.  Selfs al studeer jy ingenieurswese of aktuariële wetenskap, sorg dat jy die kunstenaars en kunssinniges bevriend, in hulle koppe klim en ‘n wyer wêreld leer verstaan as ene wat opgesluit is in tutoriaalopdragte en handboeke.

Geniet dit.  Maar geniet die volle ervaring, nie nét die wees-tussen-jongmense nie.  Geniet die uitdagende debatte met dosente, die laatnag-artikelsoekery vir werksopdragte, die slimmer-word en bevraagtekening van alles.  Die grootword, die geluk en seer van verhoudings, die hoop en teleurstellings van lewe.

>>

Enige raad wat jy vir ons het?

Wat’s die top tips waarmee jy jou kind/broer/suster/vriend by die universiteit sal los?